Genesis 6:4-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. Daardie dae was daar reuse op die aarde en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Hulle was die kragtige vegters uit die ou tyd, die manne van eer en outoriteit.

5. יהוה het gesien dat die boosheid van die mens groot was op die aarde en dat elke vorming van ’n gedagte in sy gedagtes en wil, altyddeur boos was

6. en יהוה was spyt dat Hy die mens op die aarde gemaak het en daar was pyn in Sy binneste.

7. יהוה sê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het van die aarde af vernietig, die mens sowel as die diere, die reptiele en die voëls van die hemel; Ek is spyt dat Ek hulle gemaak het.”

8. Noag het egter guns gevind in die oë van יהוה.

9. Hierdie is die geskiedenis van Noag. Noag was in sy tyd ’n onskuldige, opregte man met integriteit. God was tevrede met Noag.

10. Noag was die vader van drie seuns: Shem, Gam en Yefet.

11. Die aarde was korrup voor God en die aarde was vol boosheid.

12. God het gesien dat die aarde korrup was, want alle vlees het hulle lewenswyse op die aarde korrup gemaak.

13. God sê daarom vir Noag: “Die einde van alle vlees het voor My gekom, want die aarde is deur hulle volgemaak met boosheid. Let op, Ek gaan hulle saam met die aarde vernietig.

14. Maak vir jou ’n ark van goferhout; jy moet die ark met kamers maak en dit binne en buite met pik toedek

15. en só moet jy dit maak: die lengte van die ark, drie honderd el; sy breedte, vyftig el en sy hoogte, dertig el.

16. Jy moet ’n opening maak vir die ark; jy moet dit ’n el van die bokant af afwerk en die deur van die ark aan die sykant sit. Jy moet dit met ’n onderste, tweede en derde verdieping maak.

17. Let op, Ék bring ’n vloed van water oor die aarde, om van onder die hemel alle vlees waarin ’n gees van lewe is, te vernietig. Alles wat op die aarde is, sal doodgaan.

18. Met jou sal Ek My verbond bevestig; jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en die vroue van jou seuns saam met jou

Genesis 6