Genesis 43:16-27 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

16. Toe Yosef Binyamin by hulle sien, sê hy aan die opsigter oor sy huis: “Bring die manne na my huis en slag ’n dier en maak dit gereed, want die manne sal vanmiddag saam met my eet.”

17. Die man het gedoen soos Yosef beveel het en die man het die manne in die huis van Yosef gebring.

18. Die manne was bang omdat hulle in die huis van Yosef gebring is en het gesê: “Dit is as gevolg van die geld wat die eerste keer in ons sakke teruggekom het dat ons ingebring is om ons te oorrompel, ons te oorval en ons as slawe te vat, saam met ons donkies.”

19. Hulle het nader gekom na die opsiener oor die huis van Yosef en met hom gepraat by die ingang van die huis

20. en gesê: “Ag, meneer, ons het werklik die eerste keer afgetrek om kos te koop,

21. maar dit het gebeur dat toe ons in die herberg kom, ons ons sakke oopgemaak het en let op, elkeen se geld was bo in sy sak; ons geld in sy volle gewig en ons het dit in ons hand teruggebring.

22. Ons het ook ander geld in ons hand afgebring om kos te koop. Ons weet nie wie ons geld in ons sakke gesit het nie.”

23. Hy antwoord: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir julle! Moenie bang wees nie! Julle God en die God van julle vader het vir julle ’n skat in julle sakke gegee. Ek het julle geld gehad.” Hy het Shim’on na hulle toe uitgebring.

24. Die man het die manne in die huis van Yosef ingebring, vir hulle water gegee en hulle het hul voete gewas; hy het ook vir hulle donkies voer gegee.

25. Hulle het die geskenk reggemaak vir Yosef se koms die middag, want hulle het gehoor dat hulle daar brood sou eet.

26. Toe Yosef in die huis inkom, het hulle vir hom die geskenk ingebring wat in hulle hand was en op hulle gesigte op die grond voor hom neergeval.

27. Hy het hulle na hul welstand gevra en gesê: “Gaan dit goed met julle vader, die ou man waarvan julle gepraat het? Leef hy nog?”

Genesis 43