23. Hy het sy broers saam met hom gevat en hom vir sewe dae agternagejaag en hom ingehaal in die gebergte van Gil’ad.
24. God het na Lavan, die Arameër, in die nag gekom in ’n droom en vir hom gesê: “Pas op dat jy nie met Ya’akov goed of kwaad praat nie.”
25. Lavan het Ya’akov ingehaal. Ya’akov het al sy tent opgeslaan in die gebergte en Lavan, saam met sy broers, het in die gebergte van Gil’ad kamp opgeslaan.
26. Lavan sê vir Ya’akov: “Wat het jy gedoen dat jy skelm weggesluip het en my dogters soos krygsgevangenes weggevoer het?
27. Waarom het jy in die geheim en skelm van my af weggegaan en my nie vertel nie sodat ek jou met oorweldigende blydskap, met ‘n lied, met tamboeryn en harp kon wegstuur?
28. Jy het my ook nie toegelaat om my seuns en dogters te soen nie. Nou het jy daardeur dwaas opgetree.
29. Die mag is in my hand om julle skade aan te doen, maar die God van julle vader het verlede nag met my gepraat en gesê: ‘Pas op dat jy nie met Ya’akov praat, beide goed of kwaad nie.’
30. Nou het jy reeds vertrek omdat jy so erg verlang het na die huis van jou vader, maar waarom het jy my gode gesteel?”
31. Ya’akov antwoord en sê vir Lavan: “Ek was bang, want ek het gedink u sal miskien u dogters met geweld van my af wegvat.
32. By wie u ook al u gode vind, laat hom nie lewe nie! Onderskei wat van u by my is, in die teenwoordigheid van ons broers en vat dit saam.” Ya’akov het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie.
33. Lavan het in die tent van Ya’akov, van Le’ah en van die twee slavinne ingegaan, maar hy het niks gekry nie. Toe het hy uit die tent van Le’ah uitgegaan en in die tent van Ragel gekom.
34. Ragel het die familie afgode gevat en dit in die kameelsaal gesit en daarop gaan sit. Lavan het die hele tent deurgevoel, maar niks gekry nie.
35. Sy sê vir haar vader: “Laat dit nie brand in my meester se oë (ontevrede wees) omdat ek nie vir u kan opstaan nie, want dit gaan met my volgens die pad van vroue.” Hy het gesoek, maar die familie afgode nie gekry nie.
36. Ya’akov was woedend en hy het met Lavan gestry en Ya’akov antwoord vir Lavan en sê: “Wat is my oortreding, wat is my sonde dat u my so vuriglik agtervolg het?
37. Noudat u al my goed deursoek het; wat het u van al u huisware gevind? Sit dit hier voor my broers en u broers neer en laat hulle oordeel tussen ons twee.
38. Hierdie twintig jaar wat ek by u was, het u skaap- en bokooie geen misdrag gehad nie en die ramme van u kleinvee het ek nie geëet nie.
39. Wat die wilde diere verskeur het, het ek nie na u gebring nie; ek het die verlies daarvan gedra. U het dit van my hand geëis, of dit bedags of snags gesteel is.