Eksodus 29:20-29 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

20. jy moet die ram slag en van sy bloed vat en dit aan die regteroorbel van Aharon en aan die regteroorbel van sy seuns smeer, asook aan die duim van hulle regterhand en aan die groottoon van hulle regtervoet en sprinkel die bloed rondom die altaar.

21. Jy moet van die bloed wat aan die altaar is en van die salfolie vat en dit op Aharon en op sy klere, sowel as op sy seuns en op die klere van sy seuns, sprinkel, saam met hom sodat hy en sy klere, sowel as sy seuns en die klere van sy seuns, saam met hom, afgesonderd kan wees.

22. Vat ook die vet, die vetstert, die vet wat oor die binnegoed is, die vetlob aan die lewer, die twee niere met die vet wat daaraan is, die regterboud van die ram, want dit is ’n inwydingsram,

23. met een brood, een oliebroodkoek en een platkoek uit die mandjie met ongesuurde brode wat voor יהוה is

24. en lê dit alles in die hande van Aharon en in die hande van sy seuns en waai dit as ’n waaioffer voor die Teenwoordigheid van יהוה.

25. Vat dit uit hulle hande uit en steek dit op die altaar aan die brand, as ’n brandoffer, as ’n aangename geur voor die Teenwoordigheid van יהוה. Dit is ’n offer met vuur tot יהוה.

26. Jy moet die bors van die inwydingsram van Aharon vat en dit waai as waaioffer voor die Teenwoordigheid van יהוה; dit sal jou deel wees.

27. Jy moet van die inwydingsram, die bors van die waaioffer wat gewaai is en die boud van die opligoffer wat opgelig is, afsonder; dit wat vir Aharon is en dit wat vir sy seuns is.

28. Dit sal vir Aharon en sy seuns hulle porsie wees as ’n ewige instelling van die kant van die kinders van Yisra’el af, want dit is ’n opligoffer en dit sal ’n opligoffer wees van die kant van die kinders van Yisra’el, vanuit hulle vredesoffers; hulle opligoffer aan יהוה.

29. Die afgesonderde klere van Aharon sal sy seuns s’n wees na hom, om hulle daarin te salf en hulle hande daarin te bevestig (aan te stel).

Eksodus 29