20. Die gérubs moet hulle vlerke boontoe uitsprei en die toedekking met hulle vlerke bedek en hulle gesigte moet na mekaar toe wees; die gesigte van die gérubs moet op die toedekking gerig wees.
21. Jy moet die toedekking bo-op die ark sit, maar in die ark moet jy die Getuienis sit wat Ek vir jou sal gee.
22. Daar sal Ek met jou ontmoet en van bo die toedekking af, van tussen die twee gérubs wat op die ark van die Getuienis is, met jou praat en alles sê wat Ek jou sal beveel aangaande die seuns van Yisra’el.
23. Jy moet ook ’n tafel van akasiahout maak. Sy lengte moet twee el, sy breedte ’n el en sy hoogte een en ’n half el wees.Heb 9:2
24. Trek dit oor met suiwer goud en maak rondom ’n goue rand daarvoor.
25. Maak ook daarvoor ’n rand van ’n handbreedte rondom en maak ’n goue vorm vir die rand rondom.
26. Maak vier goue ringe vir dit en sit die ringe vas aan die vier hoeke by die vier pote.
27. Die ringe moet naby die rand wees as houers vir die pale om die tafel mee te dra.
28. Jy moet die pale maak van akasiahout en dit oortrek met goud sodat die tafel daarmee gedra kan word.
29. Jy moet ook sy borde, sy panne en sy kruike maak en sy bekers waarmee gegooi moet word; van suiwer goud moet jy dit maak.
30. Jy moet voortdurend die brood van die Teenwoordigheid op die tafel voor My neersit.
31. Jy moet ook ’n lampstaander maak van suiwer goud. Die lampstaander moet van slaanwerk wees. Sy skag, sy arms, sy bakkies, sy knoppe en sy blomme moet uit een stuk wees.
32. Ses arms moet uit die sykante uitgaan: drie arms van die lampstaander uit die een kant en drie arms van die lampstaander uit die ander kant.
33. Drie bakkies, soos amandelbloeisels gevorm, moet aan die een arm gemaak word, met ’n knop en ’n blom en drie bakkies wat soos amandelbloeisels gevorm is aan die ander arm, met ’n knop en ’n blom; so moet dit wees aan die ses arms wat uit die lampstaander uitgaan.
34. Aan die lampstaander self moet vier bakkies wees wat gevorm is soos amandelbloeisels, met knoppe en blomme:
35. daar moet ’n knop wees onder die eerste paar arms en ’n knop onder die tweede paar arms en ’n knop onder die derde paar arms wat daaruit uitgaan; volgens die ses arms wat uit die lampstaander uitgaan.
36. Hulle knoppe en hulle arms moet uit een stuk wees; alles saam moet een stuk slaanwerk van suiwer goud wees.
37. Jy moet ook sewe lampe daarvoor maak en hulle moet sy lampe so rangskik sodat dit lig gee aan die voorkant.
38. Hulle snuiters en bakkies moet van suiwer goud wees.
39. Dit moet van ’n talent suiwer goud gemaak word; met al hierdie bybehore.