Dani'el 3:3-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

3. Toe het die generaals van die weermag, die landmeesters, die goewerneurs, die regters, die skatmeesters, die raadslede, die advokate en al die heersers van die provinsies bymekaargekom vir die inwyding van die beeld wat koning N’vukhadnetzar opgerig het en hulle het voor die beeld gaan staan wat N’vukhadnetzar opgerig het.

4. Toe het ’n aankondiger hard uitgeroep en gesê: “Julle word beveel, o volke, nasies en tale,

5. sodra julle die geluid hoor van die horing, fluit, harp, doedelsak en van allerhande musiek met instrumente, moet julle neerval en die goue beeld aanbid wat koning N’vukhadnetzar opgerig het

6. en wie nie neerval en aanbid nie, sal onmiddellik binne-in die brandende vuuroond gegooi word;”

7. daarom, op die oomblik toe al die volke die geluid van die horing, fluit, harp, doedelsak en van allerhande musiek met instrumente hoor, het al die volke, nasies en tale neergeval en die goue beeld aanbid wat koning N’vukhadnetzar opgerig het.

8. Op daardie oomblik het sekere Kasdeërs nader gekom en hulle, wat vanaf Y’hudah is, aangekla.

9. Hulle het vir koning N’vukhadnetzar gesê: “O koning, leef vir ewig.

10. U, o koning, het ’n bevel gegee dat elke mens wat die geluid van die horing, fluit, harp, doedelsak en van allerhande musiek met instrumente hoor, moet neerval en die goue beeld, wat u opgerig het, aanbid

11. en dat hy wat nie neerval en aanbid nie, binne-in die brandende vuuroond gegooi moet word.

12. Daar is sekere manne van Y’hudah wat u oor die bestuur van die provinsie van Bavel aangestel het, Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go; hierdie manne het u, o koning, nie in ag geneem nie; hulle dien nie u gode nie en aanbid ook nie die goue beeld wat u opgerig het nie.

13. Toe het N’vukhadnetzar in sy toorn en woede, bevel gegee om Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go te bring en hulle het hul voor die koning gebring.

14. Toe het N’vukhadnetzar gepraat en vir hulle gevra: “Is dit waar, Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go, dat julle my gode nie dien nie en ook nie die goue beeld wat ek opgerig het, aanbid nie?

15. Nou, as julle gereed is, sodra julle die geluid van die horing, fluit, harp, doedelsak en van allerhande musiek met instrumente hoor en neerval en die beeld wat ek gemaak het aanbid, goed, maar as julle nie aanbid nie, sal julle onmiddellik binnein die brandende vuuroond gegooi word en wie is jul God wat julle uit my hand sal verlos?”

16. Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go het geantwoord en aan koning N’vukhadnetzar gesê: “Daar is geen doel om u op hierdie saak te antwoord nie,

17. want Hy, ons God wat ons aanbid, is in staat om ons te bevry van die brandende vuuroond en Hy sal ons uit u hand bevry, o koning.

18. Selfs indien nie, dan sal die koning weet dat ons nie u gode sal dien nie en ook nie die goue beeld wat u opgerig het, sal aanbid nie.”

Dani'el 3