15. יהוה het ’n pes onder Yisra’el gestuur vanaf die oggend tot op die bepaalde tyd en van Dan tot Be’er-Sh’va het daar van die mense sewentig duisend man gesterf.
16. Toe die engel sy hand uitsteek na Yerushalayim om dit te vernietig, het יהוה teruggetrek van die katastrofe en aan die engel wat die mense vernietig het gesê: “Dit is genoeg, ontspan nou jou hand!” Die engel van יהוה was by die dorsvloer van Aravnah, die Y’vusiet.
17. Toe het Dawid met יהוה gepraat toe hy die engel sien wat die mense doodslaan en gesê: “Let op, dit is ék wat gesondig het en ék wat verkeerd gedoen het, maar hierdie skape, wat het hulle gedoen? Laat u hand asseblief teen my en my vader se huis wees.”
18. Gad kom dieselfde dag by Dawid en sê vir hom: “Gaan op, bou vir יהוה ’n altaar op die dorsvloer van Aravnah, die Y’vusiet.”
19. Dawid het opgegaan volgens die woord van Gad, net soos יהוה beveel het.
20. Aravnah het afgekyk en die koning en sy diensknegte na hom toe sien oorkom en Aravnah het uitgegaan en sy gesig na die grond toe neergebuig voor die koning.
21. Toe het Aravnah gesê: “Waarom kom my meester die koning na sy dienskneg?” Dawid antwoord: “Om die dorsvloer van jou te koop, om vir יהוה ’n altaar te bou sodat die plaag teruggehou kan word van die mense.”
22. Aravnah sê vir Dawid: “My meester die koning kan vat en offer wat goed is in sy oë. Kyk, die beeste vir die brandoffer, die dorssleë en die jukke van die beeste vir die hout.
23. Aravnah gee alles, o koning, aan die koning.” Aravnah het ook vir die koning gesê: “Mag יהוה, u God, u aanvaar.”
24. Die koning het egter vir Aravnah gesê: “Nee, maar ek wil dit verseker van jou koop vir ’n prys, want ek wil nie aan יהוה, my God, brandoffers bring wat my niks kos nie.” Dawid het die dorsvloer en die beeste gekoop vir vyftig sikkels silwer.”
25. Dawid het daar vir יהוה ’n altaar gebou en brandoffers en vredesoffers gebring. So is יהוה deur gebed vir die land beweeg en die plaag is van Yisra’el af teruggehou.