1. Toe die koningin van Sh’va hoor van die bekendheid van Shlomo en aangaande die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה, het sy gekom om hom met moeilike vrae te toets.
2. Sy het na Yerushalayim gekom met ’n baie groot gevolg, met kamele wat speserye, baie goud en edelgesteentes dra. Toe sy by Shlomo kom, het sy met hom gepraat oor alles wat in haar verstand, wil en emosie was.
3. Shlomo het al haar vrae beantwoord; niks was vir die koning verborge wat hy nie aan haar verduidelik het nie.
4. Toe die koningin van Sh’va al die wysheid van Shlomo sien, die huis wat hy gebou het,
5. die kos van sy tafel, hoe sy diensknegte sit, die bediening van sy bediendes en hulle klere, sy skinkers en sy trap waarmee hy opgaan na die huis van יהוה, het haar asem weggeslaan.
6. Toe sê sy vir die koning: “Die verslag wat ek in my eie land gehoor het aangaande u woorde en u wysheid, was waar.
7. Nogtans het ek die verslae nie geglo nie totdat ek gekom en met my oë gesien het. Let op, die helfte is nie vir my vertel nie. U oortref in wysheid en in welvaart die verslag wat ek gehoor het.
8. Hoe geseënd is u manne, hoe geseënd is hierdie diensknegte van u wat voortdurend voor u staan en u wysheid hoor.
9. Lof aan יהוה, u God, wat bly was oor u om u op die troon van Yisra’el te laat sit! Omdat יהוה Yisra’el vir ewig liefhet; daarom het Hy u koning gemaak om reg en onpartydige opregtheid te doen.”
10. Sy het vir die koning ’n honderd en twintig talente goud, ’n groot hoeveelheid speserye en edelgesteentes gegee. Daar het nooit weer so ’n hoeveelheid speserye ingekom as wat die koningin van Sh’va vir koning Shlomo gegee het nie.
11. Die skepe van Hiram wat goud uit Ofir gaan haal het, het ook uit Ofir ’n groot hoeveelheid sandelhout en edelgesteentes gebring.
12. Die koning het ondersteunings vir die huis van יהוה en vir die huis van die koning, asook liere en harpe vir die sangers van die sandelhout (almug) gemaak; sulke sandelbome het nie weer ingekom of is gesien tot vandag toe nie.
13. Koning Shlomo het vir die koningin van Sh’va aan al haar begeertes, wat sy gevra het, voldoen; bo en behalwe wat hy vir haar gegee het volgens sy koninklike vrygewigheid. Toe het sy omgedraai en na haar eie land gegaan saam met haar bediendes.
14. Die gewig van goud wat in een jaar vir Shlomo ingekom het, was ses honderd ses en sestig talente goud, (ongeveer 23 metrieke ton)
15. behalwe wat ingekom het van die handelaars wat rondtrek en van die wins van die verkopers en van al die konings van die Arabiere en van die goewerneurs van die land.
16. Koning Shlomo het twee honderd groot skilde van suiwer goud gemaak; hy het ses honderd sikkels (6,8kg) goud op elke groot skild gebruik