Spreuke 19:8-20 Die Boodskap (DB)

8. ’n Gelowige lewenstyl verryk ’n mens. Insig verleen kwaliteit aan die lewe.

9. Onder kruisverhoor word ’n vals getuie gou vasgetrek. ’n Leuenaar sal nie maklik loskom nie.

10. Rykdom pas darem nie by ’n dwaas nie. Ewe onvanpas is die verterende ambisie van ’n jongman om oor ander te heers.

11. Iemand wat sy humeur in toom hou, is slim. Wie hulle vergewe wat hom beledig, word deur almal gerespekteer.

12. ’n Woedende baas kan soos ’n brullende leeu wees. Almal om hom wil hy verskeur. As sy bui bedaar, is hy weer so mak soos ’n lammetjie.

13. ’n Ongelowige seun wat nie weet hoe om reg te leef nie, kan sy ouers in ellende dompel. Iemand wat voortdurend karring, is so irriterend soos ’n dak wat op ’n reëndag drup.

14. ’n Huis en baie geld kan ’n mens nog by jou ouers erf, maar ’n goeie lewensmaat kom net van die Here af.

15. ’n Luielak doen niks nie. Hy slaap hom honger en eet hom weer vaak. Hy sal nooit sy ideale waar maak nie, nooit lekker kan leef nie.

16. Wie die Here se wil ernstig opneem, is ’n gelukkige mens. Wie sy woord verag, gaan stadig maar seker dood.

17. Wie goed is vir die arme, maak eintlik ’n lening aan die Here. Op sy eie tyd en manier sal Hy hierdie goeie daad beloon.

18. Vat ’n kind vas terwyl hy nog jonk en in die ouerhuis is. Moet dit nie oordryf nie, want dan breek jy sy moed.

19. Iemand met ’n verskriklike humeur moet jy aan sy eie lot oorlaat. As hy sy humeur verloor en in die moeilikheid kom, moet jy hom nie probeer help nie. As jy dit een maal doen, sal jy weer en weer moet help.

20. Luister na mense wat die lewe ken. Aanvaar hulle raad. Dink goed oor hulle woorde na. Pas dit in jou eie lewe toe. Dan sal jy weet hoe om gelukkig te leef.

Spreuke 19