Spreuke 17:3-22 Die Boodskap (DB)

3. Soos ’n onderwyser jou kennis toets, so toets die Here ons ook. Hy wil vasstel hoe eg ons liefde vir Hom is.

4. ’n Mens wat die Here verag, luister graag na smerige praatjies oor seks, geweld en moord. Hy kan nooit genoeg daarvan kry nie. ’n Leuenaar kan ook nie met sy gelieg ophou nie. Hy hou net aan en aan.

5. Wie vir armes se eenvoud lag, spot met die Here. Wie hom in hulle ellende verlustig, sal gestraf word.

6. Kleinkinders verskaf hulle oupas en oumas hope geluk en vreugde. Kinders wat trots is op hulle ouers, staan sterk.

7. Keurige taal hoor jy nie sommer by ’n domme nie. Leuens en vuiltaal verwag jy tog nie van iemand wat jy respekteer nie.

8. Omkoopgeld help mense. Dit kan baie deure vir hulle oopsluit.

9. As jy mense vergewe wat jou te kort doen of sleg van jou praat, verstaan jy God se liefde baie goed. Wie iemand altyd verwyt of hom aan sy skuld herinner, verloor gou al sy vriende.

10. ’n Persoon wat die Here ken, luister as iemand hom op sy foute wys. Hy neem dit ernstig op en dink daaroor na. ’n Dom mens kan jy slaan en slaan, maar hy hou aan om verkeerd te doen.

11. Moeilike mense maak met almal rusie. Op ’n dag sal hulle nog hulle moses teëkom.

12. ’n Woedende leeuwyfie wie se kleintjies van haar af weggeneem is, is nie naastenby so gevaarlik soos al die onsin wat ’n dom mens praat nie.

13. As jy mense wat vir jou lief is, sleg behandel, vernietig jy eintlik jouself. Jy sal ’n baie ongelukkige mens word.

14. ’n Rusie begin altyd klein en word dan erger en erger. Dit is soos ’n damwal. Eers is die lek klein, en dan breek die wal. Keer die rusie voordat dit te ver gaan.

15. Die Here hou niks van mense wat verkeerde dinge goedpraat en gelowiges afkraak nie.

16. Wysheid kan ’n mens nêrens koop nie. Net mense wat nie die lewe ken nie, dink hulle kan groot somme geld daarvoor betaal.

17. Kies jou vriende versigtig. ’n Ware vriend sal jou deur dik en dun bystaan. Soos ’n goeie broer is hy altyd by jou. ’n Mooiweersvriend sal jou net ondersteun terwyl dit goed gaan.

18. Pas op vir finansiële risiko’s, vir lenings waaraan jy swaar afbetaal. Moet tog nie vir iemand borg teken nie. Dit is ’n dom ding. Jy gaan aan die kortste ent trek.

19. Wie mense beledig, lok rusie uit. Wie baie van homself dink, word verneder.

20. ’n Mens wat met niks tevrede is nie, sê nooit iets goeds van ander nie. Hy kraak net heeltyd af. Niks is ooit reg nie. Later wil niemand met hom bevriend wees nie.

21. Dit is nie lekker vir ouers as ’n kind die Here verwerp en nie weet hoe om reg te leef nie. Dit maak hulle diep ongelukkig.

22. Vreugde en geluk is goed vir jou gesondheid. Depressie kan jou knak.

Spreuke 17