Numeri 20:2-11 Die Boodskap (DB)

2. Daar was nie genoeg water om te drink vir almal nie, en hulle was weer vir Moses en Aäron kwaad.

3. Hulle het vir Moses gesê: “Ons wens ons het liewer saam met die res van ons mense daar by die tent van die Here doodgegaan!

4. Hoekom het jy ons na hierdie woestyn toe gebring? Sodat ons en al ons vee kan doodgaan? Is dit wat jy wil hê?

5. Waarom het jy ons uit Egipte uit na hierdie ellendige plek toe laat trek? Hier is net mooi niks, nie koring of vye of druiwe of granate nie, hier is nie eers drinkwater nie!”

6. Moses en Aäron is toe van daar af weg na die tent toe waar die Here aanbid word. By die ingang van die tent het hulle op hulle knieë gaan staan om te bid. Die Here het toe in ’n baie helder lig aan hulle verskyn

7. en vir Moses gesê:

8. “Vat Aäron se kierie, dan maak julle twee die volk daar by die rots bymekaar. Jy moet daar voor hulle almal met die rots praat, dan sal daar water uit die rots uitkom. Die water wat daar uitkom, sal genoeg wees vir hulle en hulle vee om van te drink.”

9. Moses het toe die kierie wat in die tabernakel was, gevat soos die Here gesê het,

10. en hy en Aäron het die volk by die rots laat bymekaarkom. Hy sê toe vir hulle: “Luister hier, julle klomp skoorsoekers, moet ons vir julle water uit hierdie rots uit laat kom?”

11. Toe lig Moses sy arm op en slaan die rots twee keer met die kierie. Skielik het daar ’n groot stroom water uit die rots uitgestroom. Almal, mens en dier, het genoeg gehad om te drink.

Numeri 20