Numeri 19:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

2. “Gaan sê vir die Israeliete hulle moet vir julle ’n koei bring wat rooi van kleur is. Die koei mag nie kruppel of vermink wees nie en sy mag ook nog nooit enige werk gedoen het nie.

3. Bring haar vir die priester Eleasar sodat hy haar uit die kamp kan uitvat en haar daar kan laat slag.

4. Hy moet dan van die bloed in ’n bak opvang en met sy vinger sewe keer daarvan in die rigting spat van die ingang van die tent waar Ek aanbid word.

5. Daarna moet die koei voor Eleasar verbrand word, vel, vleis, bloed en binnegoed alles saam.

6. Die priester moet dan ’n stukkie sederhout, hisoptakkies en ’n stukkie rooi wol in die vuur gooi waarin die koei verbrand word.

7. Daarna moet die priester sy klere was en bad voordat hy weer mag teruggaan kamp toe. Hy is egter vir die res van die dag nie geskik om diens te doen in die tent nie.

8. Die persoon wat die koei verbrand het, moet ook sy klere was en bad. Hy is ook vir die res van die dag onrein.

9. ’n Rein persoon moet dan die as van die koei bymekaarmaak en dit buite die kamp op ’n skoon plek gaan bêre. Die Israeliete moet hierdie as saam met die reinigingswater gebruik. Die doel van hierdie ritueel is om vir hulle sonde vergifnis te vra.

Numeri 19