26. Die Here vra toe vir Moses en Aäron:
27. “Hoe lank gaan hierdie slegte spul mense nog aanhou om die rug vir My te draai? Ek het net mooi genoeg gehad van hulle gekerm!
28. Gaan sê vir hulle: So seker as wat Ek leef, sê die Here, Ek gaan alles met julle doen wat Ek julle hoor sê het.
29. Almal van julle wat ouer is as twintig en wie se name in die sensus opgeskryf is, dié wat teen My in opstand gekom het, se geraamtes sal in hierdie woestyn agterbly.
30. Nie een van julle sal in die Beloofde Land ingaan nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne en Josua seun van Nun.
31. “Wat julle kinders betref: Julle sê mos dat hulle almal daar in die nuwe land gevangenes sal wees. Wel, die teendeel is waar: dit is vir hulle wat Ek die nuwe land sal gee. Hulle sal sommer baie lief word vir die land wat julle verwerp het.
32. Maar julle sal in hierdie woestyn doodgaan en julle geraamtes sal hier agterbly.
33. Julle kinders sal vir 40 jaar in die woestyn rondtrek soos herders op soek na weiveld. Hulle sal die gevolge van julle ongehoorsaamheid aan My moet dra totdat julle hele geslag hier in die woestyn dood is.
34. Omdat julle verspieders 40 dae lank in die land was om dit deur te kyk, sal julle nou vir julle straf ’n volle 40 jaar lank in die woestyn rondtrek. Vir elke dag wat hulle daar was, sal julle een jaar lank die gevolge van julle sonde moet dra. Dan sal julle agterkom hoe dit voel om My as julle vyand te hê.