14. My God, onthou tog hierdie goeie daad. Moenie al die mooi dinge wat ek so getrou vir u woonplek gedoen het, vir ’n enkele oomblik vergeet nie.
15. In daardie tyd het ek gesien hoe die mense van Juda op ’n sabbat by hulle wynperse werk. Dit was nie al nie; hulle het ook sakke vol koring, wyn, vye en allerhande ander handelsware op hulle donkies gelaai en dit Jerusalem toe gevat om dit daar te gaan verkoop. Ek het hulle gewaarsku om nie sulke goed op ’n sabbat te doen nie.
16. Daar het ook mense van Tirus in Jerusalem gebly en hulle het vis en allerhande ander goed in die stad ingebring en dit op die sabbat aan die mense in Jerusalem verkoop.
17. Ek het ernstig met die leiers van Juda hieroor gepraat: “Besef julle nie dat julle die sabbat verkeerd hou as julle sulke goddelose goed toelaat nie?” het ek gevra.
18. “Was dit nie presies wat julle voorouers gedoen het nie? Dit is oor sulke dinge dat hierdie stad vernietig is. Al wat nou gaan gebeur, is dat God weer verskriklik kwaad gaan word omdat julle toelaat dat die sabbat so verkeerd gehou word.”
19. Ek het toe beveel dat die stadshekke gesluit moes word sodra dit begin donker word op die Vrydagaand voor die sabbat en dat hulle nie weer oopgesluit mag word voordat die sabbat verby was nie. Ek het van my eie mense aangestel om die hekke op te pas om seker te maak dat niks die stad inkom nie.
20. Dit het een of twee maal gebeur dat van die handelaars op hierdie aande net buite Jerusalem kamp opgeslaan het.
21. Ek het hulle ernstig gewaarsku en gesê: “Wat dink julle doen julle hier? Dit help nie julle wag hier buite vir iemand om uit te kom nie. As julle dit weer doen, gaan ek julle laat arresteer!” Van toe af het hulle nie weer op die sabbat daar aangekom nie.
22. Ek het toe vir die Leviete opdrag gegee om hulleself aan die Here te gaan toewy sodat hulle die hekke op die sabbat kon oppas. Op hierdie manier kon hulle sorg dat die sabbat gehou word as ’n dag wat spesiaal aan die Here behoort. Onthou my asseblief ook vir hierdie goeie daad, my God. Gee tog baie vir my om. U is tog die God wat ons liefhet.
23. Ek het ook in daardie tyd gesien dat baie Joodse mans met vroue van Asdod, Ammon en Moab getroud is.
24. Erger nog, die helfte van hulle kinders het die taal van Asdod, of die een of ander vreemde taal gepraat. Hulle kon nie eens hulle eie moedertaal praat nie.
25. Ek het hierdie mans hiermee gekonfronteer en baie streng teen hulle opgetree. Ek het die Here gevra om hulle hieroor te straf. Ander het my so kwaad gemaak dat ek hulle sommer laat slaan het en hulle aan hulle hare laat rondpluk het sodat hulle kon verstaan dat hulle verkeerd optree. Ek het hulle die volgende voor God laat beloof: “Ons dogters sal nie met ongelowige volke se seuns trou nie, en hulle dogters sal ook nie met ons seuns of met onsself trou nie.”
26. “Kyk maar na koning Salomo,” het ek ook vir hulle gesê. “Daar was nie nog ’n koning soos hy nie. God het hom liefgehad en hy het oor die hele Israel regeer. Tog was sy liefde vir die vroue van ander volke sy ondergang.
27. Hoe kan julle selfs daaraan dink om so ’n sonde te pleeg en verkeerd teenoor God op te tree deur met vreemde vroue te trou!”
28. ’n Seun van Jojada, die hoëpriester Eljasib se seun, het met Sanballat die Goroniet se dogter getrou. Vir hom het ek summier uit die gemeente weggejaag.
29. Moenie vergeet wat hulle gedoen het nie, my God. Hulle het die priesterskap en al die beloftes van die ooreenkoms wat die priesters en Leviete voor U afgelê het, onder hulle voete vertrap.
30. So het ek die mense en die stad gehelp om ontslae te raak van alles wat vreemd en verkeerd was in die oë van die Here. Ek het ook spesifieke diensbeurte vir die priesters en die Leviete ingestel en seker gemaak dat hulle presies geweet het wat om te doen.
31. Ek het ook seker gemaak dat die hout wat vir die offers gebruik word, op die regte tyd daar was en dat die mense hulle eerste opbrengs van hulle koring en vrugte as ’n dankoffer tempel toe gebring het.Onthou asseblief al hierdie dinge, my God! Wees baie goed vir my!