Markus 6:15-33 Die Boodskap (DB)

15. Ander het daarvan verskil. “Nee, hy is Elia,” het party gesê, terwyl ander gespekuleer het dat Hy soos een van God se predikers van ouds was.

16. Toe Herodes dit alles hoor, was sy reaksie: “Johannes, die man wie se kop ek afgekap het, het sowaar uit die dood teruggekom!”

17-19. Laat ek eers die verhaal vertel hoe Herodes Johannes se kop laat afkap het. Die einste Herodes het soldate gestuur om Johannes te vang en in die tronk te stop. Herodias het hom omgepraat om dit te doen. Sy was eers sy broer Filippus se vrou, maar Herodes het toe met haar getrou. Johannes het dit nie daar gelos nie en reguit vir Herodes gesê: “God hou nie daarvan dat jy jou broer se vrou gevat het nie.” Daaroor was Herodias natuurlik woedend en het begin planne maak om Johannes dood te maak. Maar sy kon dit nie regkry nie,

20. want Herodes was lugtig vir Johannes. Hy het geweet dat Johannes ’n eerlike man was wat die Here gedien het. Daarom het hy ’n ogie oor Johannes gehou. Hy het graag geluister na wat Johannes alles sê, hoewel dit hom soms ongemaklik laat voel het.

21. Herodias het haar kans gekry op Herodes se verjaarsdag. Hy het ’n groot partytjie gehou vir al die belangrike mense in Galilea. Al die hoë staatsamptenare was daar saam met die bevelvoerders van sy soldate en die leiers van die gemeenskap in Galilea.

22. Die dogter van Herodias kom dans toe vir hulle. Sy was ’n treffer. Herodes en sy gaste was in ekstase. So meegevoer, sê Herodes vir haar:

23. “Vra my net wat jou hart begeer en ek sal dit vir jou gee. Ek sweer, vra maar net en ek sal sorg dat jy dit kry, al is dit die helfte van wat ek besit.”

24. Sy is toe daar weg, terug na haar ma toe: “Ma, wat moet ek vra?” Sonder om een oomblik te huiwer sê haar ma: “Vra dat hulle Johannes die Doper se kop afkap en vir jou gee.”

25. Die dogter vlieg net daar om, terug na Herodes toe: “Ek wil Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord hê, en sommer dadelik, asseblief.”

26. Die koning was uit die veld geslaan en hartseer, maar hy moes sy woord hou. Hy het mos voor al sy gaste gesweer dat hy sou doen wat sy vra.

27. Hy stuur toe een van sy soldate om Johannes se kop te gaan haal. Die man is daar weg en het Johannes se kop in die tronk gaan afkap.

28. Hy het dit op ’n skinkbord vir die meisie gevat, wat dit weer vir haar ma gegee het.

29. Toe die volgelinge van Johannes dit hoor, het hulle sy liggaam gaan haal en hom behoorlik begrawe.

30. Die mense wat Jesus uitgestuur het, het na ’n ruk teruggekom. Hulle het Jesus alles vertel wat hulle gedoen en gesê het.

31. Maar dit was omtrent soos ’n malhuis rondom Jesus. Mense het so gekom en gegaan dat Jesus-hulle nie eens ’n kans gekry het om te eet nie. Jesus stel toe voor dat net hulle klein groepie saam na ’n stil plek gaan om ’n bietjie te gaan rus.

32. Hulle is toe saam in ’n skuit na ’n plek waar hulle op hulle eie kon wees.

33. Maar ’n klomp mense het hulle gesien gaan. Hulle hardloop toe al met die strand langs en was selfs voor Jesus-hulle nog by die plek. Van oral af het die mense gekom.

Markus 6