6. Jesus sien toe wat aangaan. “Los haar! Waarom kraak julle haar so af? Wat sy vir My gedoen het, beteken vir My baie. Dit is so ’n mooi gebaar.
7. Onthou een ding: julle kan later die arm mense help, want daar sal altyd van hulle wees. Julle sal meer as genoeg kans kry om dit te doen. Maar Ek gaan nie altyd so by julle wees nie.
8. Sy het hierdie parfuum oor My uitgegooi terwyl sy nog kon. Hierdie liggaam van My gaan binnekort in ’n graf lê. Sy het egter die parfuum betyds oor My uitgegooi terwyl Ek nog hier by julle is.
9. Sowaar, waar mense in die toekoms oor My gaan praat, gaan hulle oor haar ook praat. Dit maak nie saak waar dit is nie, maar hulle sal haar onthou.”
51-52. Een van sy volgelinge het egter op ’n afstand agter die spul mense aangeloop wat vir Jesus gevang het. Hy het net ’n stuk klere van linne aangehad. Toe hulle hom gryp, wikkel hy hom los en hardloop sonder sy klere kaal weg. Sy klere het by die ander mense agtergebly.
53. Hulle vat Jesus toe na die belangrikste Joodse leiers toe.
54. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg. Hy is selfs saam tot in die agterplaas van die hoëpriester se huis. Daar het hy saam met die wagte om die vuur gaan sit om hom so ’n bietjie warm te maak.
55. Die Joodse leiers, saam met die Joodse Raad, het gesoek na ’n aanklag teen Jesus wat hulle genoeg rede sou gee om Hom te laat doodmaak. Maar hulle kon sowaar niks kry nie.
56. Baie het allerhande leuens oor Hom kom vertel, maar hulle stories het so verskil dat niemand hulle sou glo nie.
57. Toe span ’n paar saam met ’n groot leuen:
58. “Ons het hom hoor sê dat hy ons tempel sal afbreek waaraan ons mense so lank gebou het. In drie dae sal hy glo ’n ander bou en hy sal nie eens mense gebruik om dit te doen nie.”
59. Maar ook dié storie was so deurmekaar dat wat die een gesê het, nie dieselfde was as wat die ander een gesê het nie.
60. Die hoëpriester, wat die voorsitter van die vergadering was, staan toe op en vra vir Jesus: “Nou toe, jy het die lelike dinge gehoor wat hierdie mense oor jou kwytraak. Wat het jy vir jouself te sê?”
61. Maar Jesus het net doodstil gebly. Weer vra die hoëpriester Hom: “Is jy die beloofde Redder, die Seun van die groot God?”
62. “Ek is,” sê Jesus. “En meer nog, julle sal sien hoe Ek, die beloofde Redder, op die ereplek langs die sterke God sit en ook hoe Ek op die wolke gaan kom om julle te oordeel.”Dit was waarvoor die hoëpriester gewag het.
63. Hy skeur toe sy klere dat almal kan sien hoe ontsteld hy is. “Vir wat soek ons nog na iemand wat vir ons kan vertel wat hierdie man verkeerd gedoen het?” roep hy uit.