1. Vroeg die Sondagoggend is die Galilese vroue na Jesus se graf toe met al die speserye wat hulle bymekaargesit het. Maar toe hulle daar aankom, wag daar ’n groot skok op hulle:
2. die groot klip wat die graf verseël het, was weggerol en
3. binne was daar geen teken van Jesus se liggaam nie.
4. Terwyl die vroue nog staan en wonder wat aan die gang was, kom staan twee mans met helder, blink klere skielik by hulle.
5. Die vroue het groot geskrik, want hulle het besef dit is engele. Hulle het dadelik hulle koppe uit eerbied laat sak.
6. Toe vra die mans vir hulle: “Waarom kom soek julle die Lewende hier in ’n graf? Dis tog net ’n plek vir die dooies.
7. “Onthou julle nog wat Jesus daar in Galilea vir julle gesê het: ‘Die Seun van die mens moet nog in die hande van ’n spul goddelose mense beland. Dan sal hulle Hom kruisig. Maar op die derde dag sal Hy weer lewendig word’?”
8. “Ja, ons onthou!” het die vroue opgewonde geantwoord.
9. Die vroue het daar en dan omgedraai en vinnig teruggegaan na die ander volgelinge van Jesus toe. Daar aangekom, het hulle vir die elf apostels en vir die ander mense vertel wat hulle gesien het.
10. Terloops, die vroue wat eerste daar by die graf was, se name was Maria Magdalena en Johanna en Maria, die ma van Jakobus. Daar was ook ’n paar ander vroue by hulle. Hulle was baie opgewonde oor wat met hulle gebeur het.
11. Maar die apostels het hulle skepties gesit en aankyk. Hulle het nie ’n woord daarvan geglo nie.
13. Twee van Jesus se volgelinge het op daardie Sondag besluit om terug te gaan na die dorp waar hulle gebly het. Hulle dorp se naam was Emmaus, so twaalf kilometer buite Jerusalem.
14. Hulle twee was ernstig aan die gesels oor die gebeure van die afgelope naweek.
15. Terwyl hulle met swaar harte geloop en praat het, het Jesus by hulle aangesluit en saam met hulle verder gestap.
16. Maar hulle het Hom nie herken nie.