9. “Wanneer mense begin oorlog maak en mekaar probeer uitwis, is die einde ook nog nie daar nie. Moenie dan paniekerig raak nie. Hierdie dinge gaan nog alles gebeur.
10. Nasies sal mekaar met geweld probeer oorheers en die een heerser sal van die ander heerser probeer ontslae raak.
11. Daar sal ook op baie plekke aardbewings wees en kos sal baie skaars raak. Hongersnood sal aan die orde van die dag wees. So ook allerhande siektes. Groot rampe sal die aarde tref. Al dié slegte dinge sal die aarde teister.
12. “Net voor al hierdie dinge gebeur, sal julle ook baie swaarkry. Ongelowiges sal julle vang en julle mishandel. En mense wat maak asof hulle godsdienstig is, sal julle voor hulle leiers aankla. Baie van julle sal in tronke gegooi word. Julle sal ook in die howe en voor hooggeplaaste mense gedaag word omdat julle in My glo. Maar moenie bekommerd wees nie.
13. Daar sal wonderlike geleenthede wees om vir My te getuig.
14. Moenie ’n slapelose nag hê oor wat julle moet sê nie.
15. Ek sal julle saak hanteer. Ek sal presies die regte woorde vir julle gee om te sê. Ek sal julle soveel wysheid gee dat julle vyande se monde van verbasing sal oophang. Hulle sal nie weet wat om julle te antwoord nie.
16. “Die slegte nuus is dat julle vyande partykeer uit julle eie huis sal kom. Julle ouers en julle broers en susters, ja, julle eie familie en julle beste vriende sal julle in die rug steek. Hulle sal julle soos misdadigers uitlewer. Party van hulle sal selfs so ver gaan om julle dood te maak.
17. “Die mense sal julle haat en met julle spot omdat julle my volgelinge is.
18. Maar moenie bang wees nie. Daar sal nie ’n haar uit julle koppe val sonder God se wete nie. Hou maar net aan glo.
19. Onthou: God se nuwe wêreld wag op almal wat tot die bitter einde toe volhard.”
20. “As julle die dag sien dat ’n vreemde leër besig is om Jerusalem te omsingel, moet julle weet dat sy dae getel is.
21. Dan moet julle so gou moontlik daar padgee. Gaan kruip iewers in die heuwels in Judea weg. Maak net dat julle wegkom! As julle dalk buite Jerusalem bly en op pad soontoe is, draai dadelik om.
22. Want dit sal ’n verskriklike tyd wees. God se oordeel sal dan op Jerusalem uitgegiet word net soos die profete lankal gewaarsku het.
23. “Ek kry veral vroue jammer wat dan verwag of wat nog klein babatjies het. Hulle gaan bitter swaarkry! Want oral gaan daar groot bloedvergieting en lyding wees. Dit sal ’n tyd van wraak wees soos Jerusalem nog nooit beleef het nie.