Levitikus 25:22-34 Die Boodskap (DB)

22. Julle sal in die agtste jaar saai, maar nog steeds kan eet van die oes wat in die sesde jaar ingekom het. Julle sal selfs daarvan kan eet tot die oes van die graan wat julle in die agtste jaar gesaai het, eers teen die negende jaar begin inkom.

23. “Grond mag nooit vir altyd verkoop word nie, want dit behoort eintlik aan My. Julle is bloot vreemdelinge en mense wat tydelik op my grond bly.

24. Wanneer en waar ook al julle in die land grond verkoop, moet daar altyd ooreengekom word dat die oorspronklike eienaar dit kan terugkoop.

25. Wanneer een van jou landgenote bankrot speel en sy erfgrond moet verkoop om sy skuld te betaal, moet sy naaste familielid kom en dit vir hom terugkoop.

26. As iemand nie so ’n familielid het nie, en hy kry dit reg om self genoeg geld bymekaar te kry om sy grond terug te koop,

27. moet hy uitwerk hoeveel tyd verbygegaan het vandat hy die grond verkoop het en hoeveel gebruiksjare daar nog vir die koper oor is tot die volgende hersteljaar. Sodra hy betaal het, kan hy weer teruggaan na sy grond toe.

28. As hy nie genoeg geld bymekaar kan kry nie, bly die grond in besit van die een wat dit gekoop het tot by die hersteljaar. In die hersteljaar mag die oorspronklike eienaar teruggaan na sy eiendom.

29. “Iemand wat ’n woonhuis in ’n stad verkoop wat ’n veilige muur om het, behou vir een volle jaar die reg om dit terug te koop.

30. As hy nie sy reg om terug te koop binne daardie jaar gebruik nie, word die huis die permanente eiendom van die koper. Dit word deel van sy boedel. Dit word nie teruggegee in die hersteljaar nie.

31. Huise in dorpe wat geen veiligheidsmuur om het nie, is deel van die platteland. Die persoon wat dit verkoop het, mag dit terugkoop. In die hersteljaar gaan dit terug na sy oorspronklike eienaar.

32. “Leviete het vir altyd die reg om in die stede wat aan hulle behoort die huise wat hulle verkoop het, terug te koop.

33. ’n Huis in ’n Levietestad wat verkoop is, maar nie teruggekoop is nie, moet gedurende die hersteljaar teruggaan na sy oorspronklike Levitiese eienaar toe. Die huise in Levitiese stede is die permanente eiendom van die Leviete in Israel.

34. Die weivelde in die buitewyke van hulle stede is nie te koop nie. Dit is hulle onvervreembare erfgrond.”

Levitikus 25