9. Aäron en sy seuns mag dan die ou brood wegvat en gaan eet op ’n plek wat daarvoor eenkant gesit is. Die brood word net vir die Here se werk gebruik en vir niks anders nie. Aäron mag dit vat uit die offers wat vir die Here gebring word. Dit is ’n reël wat vasstaan.”
10. ’n Man wat ’n Israelitiese ma gehad het en ’n Egiptiese pa, het eenmaal in die kamp aan die baklei geraak met ’n Israelitiese man.
11. Sy ma se naam was Selomit. Sy was Dibri se dogter. Hulle was uit die stam van Dan. Haar seun het gevloek en die Here se Naam gebruik asof dit sommer iets alledaags is. Die ander mense het hom toe na Moses gevat.
12. Hulle het hom opgesluit sodat Moses vir die Here kon vra wat hulle met hom moes doen.
13. Die Here het toe vir Moses gesê:
14. “Vat die man wat gevloek het uit die kamp uit. Elkeen wat gehoor het wat hy gesê het, moet hulle hand op sy kop sit om te wys dat hy skuldig is. Daarna moet almal hom met klippe doodgooi.
15. Sê dan vir die Israeliete: Enigiemand wat God se Naam sommerso gebruik sonder eerbied vir die Here, moet daarvoor boet.
16. As ’n Israeliet of iemand van ’n ander plek die Here vloek, sal hy sonder meer doodgemaak word. Die volk moet hom met klippe doodgooi.
17. “As ’n persoon iemand anders doodmaak, moet hy self doodgemaak word.
18. Die persoon wat iemand anders se dier doodmaak, moet daarvoor vergoed en ’n dier wat dieselfde waarde het, in sy plek gee.
19. As iemand ’n medemens aan sy lyf seermaak, moet hy op dieselfde plek seergemaak word en in eie munt terugbetaal word.
20. As hy iemand se been breek, word sy been gebreek. As hy iemand se oog beskadig, word sy oog ook beskadig. As hy iemand se tand uitslaan, word sy eie tand uitgeslaan. Hy word presies met gelyke munt terugbetaal vir die skade wat hy gedoen het.
21. As hy ’n dier doodmaak, kan hy nog daarvoor vergoed, maar as hy ’n mens doodmaak, moet hy met sy eie lewe betaal.
22. Daar is net een wet vir almal. Die gebore Israeliet en die buitelander word presies eenders behandel. Ek is die Here. Ek is julle almal se God.”
23. Moses het toe uitspraak in die saak gelewer en die Israeliete het die man wat gevloek het, uit die kamp uitgevat en hom daar met klippe doodgegooi. Die Israeliete het presies net so gemaak soos die Here vir Moses beveel het.