Johannes 20:8-21 Die Boodskap (DB)

8. Die ander dissipel, wat eerste daar was, het nou ook sy moed bymekaargeskraap en in die graf ingegaan. Daar het hy al die linne sien lê. Dit het hom oortuig dat Jesus regtig is wie Hy gesê het Hy is.

9. Tot in daardie stadium het hulle nog nie verstaan wat die Skrif daarmee bedoel dat Jesus moes sterf en weer uit die dood moes opstaan nie.

10. Daarna is die twee daar weg, elkeen na sy eie huis toe.

11. Maria het by die graf agtergebly en hartseer gehuil. So deur die trane het sy by die graf ingeloer.

12. Daar, presies op die plek waar die liggaam van Jesus gelê het, het twee hemelse wesens gesit. Hulle het helder, wit klere aangehad. Die een het gesit waar Jesus se kop gelê het en die ander een by sy voete.

13. “Vir wat huil jy so?” vra hulle haar.“Hulle het my Here se liggaam hier weggevat. En ek weet nou glad nie waarheen hulle Hom gevat het nie,” sê Maria hartseer.

14. Met dié kyk sy om. Daar sien sy Iemand staan. Dit was Jesus, maar sy het Hom glad nie herken nie.

15. Jesus vra haar toe: “Waarom huil jy so? Vir wie soek jy?”Maria het gedog dis die man wat in die tuin werk. “Asseblief, Meneer,” smeek Maria, “as jy Hom uit die graf gevat het, sê my tog waar sy lyk nou is. Ek sal dit vat en verder daarna kyk.”

16. “Maria!” sê Jesus.Sy swaai vinnig om. “Rabbi!” roep sy in Hebreeus uit. (Die naam verwys na iemand wat mense leer.)

17. “Moenie My vashou nie,” sê Jesus. “Ek het nog nie na my Vader toe teruggegaan nie. Gaan liewer gou terug na my broers toe. Gaan sê vir hulle: Ek gaan terug na my Vader en julle Vader; ja, Ek is op pad na my God en julle God.”

18. Maria Magdalena is toe daar weg na die ander volgelinge van Jesus toe. “Ek het die Here nou net lewendig gesien!” roep sy uit. Opgewonde vertel sy alles wat Jesus gesê het.

19. Laat daardie Sondagaand was Jesus se volgelinge nog bymekaar. Hulle was egter bang vir die Joodse leiers en het al die deure van die huis gesluit. Al was die deure gesluit, het Jesus skielik daar tussen hulle gestaan. “Vrede vir julle,” sê Hy.

20. Met dié woorde wys Hy vir hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was buite hulleself van blydskap om die Here te sien.

21. Jesus praat toe verder: “Vrede vir julle. Julle weet die Vader het My met ’n boodskap na die wêreld toe gestuur. Net so stuur Ek julle nou.”

Johannes 20