3. Petrus storm toe saam met die ander dissipel uit die huis uit. Hulle sit dadelik af graf toe.
4. Die ander dissipel het vir Petrus weggehardloop en eerste by die graf gekom.
5. Hy steek toe by die ingang vas en loer by die graf in. Net die linne het daar eenkant gelê.
6. Toe Petrus daar aankom, bars hy sommer by die graf in. Hy het ook net die linne daar sien lê.
7. Die spesiale lap wat hulle op Jesus se gesig gesit het, het nie by die ander linne gelê nie. Dit het eenkant alleen gelê, mooi opgevou.
8. Die ander dissipel, wat eerste daar was, het nou ook sy moed bymekaargeskraap en in die graf ingegaan. Daar het hy al die linne sien lê. Dit het hom oortuig dat Jesus regtig is wie Hy gesê het Hy is.
9. Tot in daardie stadium het hulle nog nie verstaan wat die Skrif daarmee bedoel dat Jesus moes sterf en weer uit die dood moes opstaan nie.
10. Daarna is die twee daar weg, elkeen na sy eie huis toe.
11. Maria het by die graf agtergebly en hartseer gehuil. So deur die trane het sy by die graf ingeloer.
12. Daar, presies op die plek waar die liggaam van Jesus gelê het, het twee hemelse wesens gesit. Hulle het helder, wit klere aangehad. Die een het gesit waar Jesus se kop gelê het en die ander een by sy voete.
13. “Vir wat huil jy so?” vra hulle haar.“Hulle het my Here se liggaam hier weggevat. En ek weet nou glad nie waarheen hulle Hom gevat het nie,” sê Maria hartseer.
14. Met dié kyk sy om. Daar sien sy Iemand staan. Dit was Jesus, maar sy het Hom glad nie herken nie.
15. Jesus vra haar toe: “Waarom huil jy so? Vir wie soek jy?”Maria het gedog dis die man wat in die tuin werk. “Asseblief, Meneer,” smeek Maria, “as jy Hom uit die graf gevat het, sê my tog waar sy lyk nou is. Ek sal dit vat en verder daarna kyk.”