Job 29:12-25 Die Boodskap (DB)

12. Want ek het die armes gehelp wat gekla het. Ek het ook die weeskinders gehelp wat niemand gehad het om vir hulle te sorg nie.

13. Ek het mense gehelp wat al die hoop opgegee het om te lewe, en hulle het net mooi dinge oor my lewe te sê gehad. Ek het dit reggekry om weduwees weer te laat sing omdat hulle bly is.

14. Ek het reg geleef en mense eerlik en regverdig behandel. Ek het dit soos klere aangetrek en soos ’n band om my kop gesit.

15. Ek was die blindes se oë en die lam mense se voete.

16. Ek was soos ’n pa vir die armes. Ek het ook die belange van vreemde mense verdedig.

17. Ek het die mag gebreek van mense wat ander onderdruk. Verder het ek hierdie onderdrukkers gedwing om hulle slagoffers vry te laat.

18. “Ek het gedink dat ek baie oud sou word en in vrede in my eie huis sou doodgaan.

19. Ek was soos ’n boom met wortels wat tot by die water gaan. In die nag val daar dou op die boom se takke.

20. Ek het altyd binne-in my vol nuwe krag gevoel. Ek was sterk en gesond.

21. “As ek gepraat het, het mense met aandag geluister. Hulle was stil, want hulle wou graag my raad en opinie oor dinge hoor.

22. Na ek gepraat het, het niemand die behoefte gehad om iets meer te sê nie. Hulle was tevrede. Hulle het aanvaar wat ek gesê het.

23. Net soos mense graag wou hê dit moes reën, net so graag wou hulle altyd hê ek moes praat. Dit was vir hulle soos lentereën wat hulle indrink.

24. Hulle het weer nuwe moed gekry as ek vir hulle glimlag. My vriendelike gesigsuitdrukking was vir hulle baie werd.

25. Ek het vir hulle besluit wat hulle moet doen, want ek was vir hulle ’n leier. Ek was soos ’n koning tussen sy manskappe. Ek het hulle getroos wanneer hulle moedeloos was.”

Job 29