Job 13:2-18 Die Boodskap (DB)

2. Ek weet net soveel as wat julle weet. Julle moenie dink julle is beter as ek nie.

3. Ek wens darem dat ek self met God kan praat, al is Hy so vreeslik magtig. Ek sal bitter graag vir Hom wil sê hoe ek oor dinge voel.

4. Julle weet nie veel nie en smeer dit met ’n spul leuens toe. Julle is ’n spul nikswerd dokters wat ’n mens nie regtig kan help nie.

5. Bly net ’n slag stil! Dit is die slimste ding wat julle kan doen.

6. Luister net ’n slag wat ek te sê het. Hoor ’n bietjie my kant van die saak.

7. “Probeer julle God met julle leuens en oneerlike argumente verdedig?

8. Julle is veronderstel om onpartydig te wees, maar ek sien julle kies God se kant van die saak. Julle verdedig sy standpunt.

9. Wat dink julle sal gebeur as Hy in julle sake begin krap? Julle moet nie vir ’n oomblik dink dat julle Hom om die bos kan lei soos julle met mense maak nie.

10. Hy sal hard met julle praat as Hy moet uitvind dat julle partydig is. Dit maak nie eens saak of julle vir Hom partydig is of dink julle doen dit in die geheim nie.

11. Hy is magtig. Maak dit julle nie bang nie? Gryp vrees vir Hom julle nie vas nie?

12. Die slim goed wat julle kwytraak, is nie veel meer werd as uitgebrande as nie. Die argumente wat julle gebruik om julleself te verdedig is so broos soos ’n kleipot.”

13. Job het verder gesê: “Bly net ’n slag stil en los my uit! Ek wil my sê sê, maak nie saak wat met my gebeur nie.

14. Ek sal my lewe in my eie hande neem om te kan sê wat ek regtig dink.

15. Ek weet God kan my doodmaak, maar dit maak nie saak nie. Daar is in elk geval nie meer hoop vir my nie. Ek wil by God uitkom en my saak stel.

16. Wat my redding behoort te wees is dat slegte mense dit nie sal waag om na Hom toe te kom nie. Ek is nie soos hulle nie, ek is gehoorsaam.”

17. Job het gesê: “Luister mooi wat ek nou gaan sê.

18. Ek het my feite mooi agtermekaar. Dit sal gou duidelik wees dat ek onskuldig is.

Job 13