Jesaja 24:2-12 Die Boodskap (DB)

2. Dieselfde lot gaan almal tref: die priesters en die volk, huisbediendes en hulle eienaars, lyfbediendes en hulle eienaresse, kopers en verkopers, mense wat geld uitleen en dié wat by hulle geld leen, bankiers en hulle debiteure.

3. Die aarde sal geheel en al verwoes en leeggestroop word. Dit is wat die Here sê.

4. Die aarde lê dor en droog as gevolg van die droogte. Die hemel en die aarde ly saam,

5. want die aarde is deur sy inwoners verwoes. Hulle het God se woord verwerp, sy opdragte geïgnoreer en sy ooreenkoms verbreek wat vir altyd moes geld.

6. Daarom tref ’n vloek nou die aarde en sy inwoners. Die mense dra die gevolge van hulle dade. Net ’n paar bly oor nadat ’n vuur alles verbrand het.

7. Wyn sal skaars word omdat die wingerde verdroog het. Almal wat voorheen opgeruimd en vrolik was, treur nou.

8. Die opgewekte musiek van harpe en tamboeryne het opgehou en die vrolike stemme van mense wat feesvier oor die oes, is doodstil.

9. Niemand drink meer wyn en sing lekker saam nie. Vir dié wat nog drank drink, smaak dit galbitter.

10. Die stad lê in puin en die huise het toegeval sodat niemand by hulle kan inkom nie.

11. Mense loop in die strate en kerm vir wyn om te drink. Niemand is meer vrolik of opgeruimd nie, alle blydskap is weg.

12. Die stad lê verlate en sy hekke lê in stukke gebreek.

Jesaja 24