11. Mense loop in die strate en kerm vir wyn om te drink. Niemand is meer vrolik of opgeruimd nie, alle blydskap is weg.
12. Die stad lê verlate en sy hekke lê in stukke gebreek.
13. Dit is wat met elke nasie op die aarde sal gebeur. Dit sal lyk soos na die oes as al die olyfbome en wingerde kaal gestroop is van hulle vrugte en net die kaal takke oorbly.
14. Maar dié wat gespaar gebly het, sal jubel en juig van blydskap. In die weste sal hulle die Here se grootheid besing.
15. In die ooste vereer hulle Hom. Selfs die mense wat langs die kus bly, loof die Naam van die Here, die God van Israel.
16. Van die uithoeke van die aarde af hoor ons liedere om die regverdige God se mag te besing. Maar my gemoed is swaar. Ek is ontnugter, want oral is bedrog aan die orde van die dag en oneerlikheid kraai koning.
17. Luister na my, daar wag angs en slaggate en strikke vir die mense van die aarde.
18. Dié wat van die gevaar af probeer weghardloop, beland in ’n slaggat en dié wat uit die slaggate wegkom, word in ’n strik gevang. As die wolkbreuke en die aardbewings losbars,
19. sal die aarde uitmekaarbars en oopskeur.
20. Die aarde sal steier en struikel soos ’n dronk mens en heen en weer geslinger word in die wind soos ’n tent in ’n storm. Die wêreld se skuld is so swaar dat dit hom platdruk. As hy val, sal hy nie weer kan opstaan nie.
21. Op dié dag sal die Here die magte bo in die hemel straf en op die aarde sal Hy die regeerders straf.
22. Hulle sal bymekaargemaak word soos gevangenes wat tronk toe gaan. Daar sal hulle vir lank opgesluit word voordat hulle verhoor en gestraf word.