Jesaja 11:7-16 Die Boodskap (DB)

7. Koeie en bere sal saam wei terwyl hulle kleintjies by mekaar lê. In dié tyd sal leeus net soos beeste van gras leef.

8. Babas sal by die gate van giftige slange kan speel en al sou ’n klein kindjie uit nuuskierigheid sy hand in die gat steek waarin daar ’n giftige slang is, sal hy niks oorkom nie.

9. In God se nuwe wêreld sal daar nie meer misdaad en korrupsie wees nie, want net so vol as wat die see met water is, so vol sal die aarde wees met kennis van die Here se wil.

10. In daardie tyd sal die nuwe koning uit die geslag van Dawid ’n teken wees vir al die nasies. Hy sal aansien onder die nasies hê en hulle sal met respek van hom praat.

11. In dié tyd sal die Here weer sy mag gebruik om die mense wat van sy volk oorgebly het, terug te bring uit die lande waar hulle was: Assirië, Egipte, Patmos, Soedan, Elam, Babilonië, Hamat en van die kusstreke af en die eilande in die Middellandse See.

12. Die Here sal vir die volke ’n teken gee om vir hulle te wys dat Hy die mense uit Israel en Juda wat oor die aarde verstrooi is, bymekaarmaak van die verste hoeke van die aarde af.

13. Die noordelike stamme van Efraim se jaloesie teenoor Juda sal iets van die verlede wees.

14. Hulle sal saamspan en die Filistyne in die weste aanval en daarna die volke wat in die ooste woon se gebiede ook plunder. Hulle sal die Edomiete en die Moabiete verslaan en die Ammoniete hulle onderdane maak.

15. Die Here sal die Nyldelta heeltemal laat opdroog en ’n droë, warm wind oor die Eufraatrivier laat waai om dit op te droog totdat daar net sewe waterstroompies oorbly waardeur enigeen sonder moeite sal kan stap.

16. Hy sal vir die mense uit sy volk wat in Assirië oorgebly het, op hierdie manier ’n wye pad maak om mee terug te kom, net soos Hy vroeër met Israel gemaak het toe Hy hulle uit Egipte laat wegtrek het.

Jesaja 11