Jeremia 16:7-21 Die Boodskap (DB)

7. Niemand sal ook eens saam met ’n mens wie se vriend of familielid dood is, ’n stukkie brood eet of iets drink om die persoon te troos nie. Dit maak nie eens saak of dit so ’n persoon se ouers is wat dood is nie.

8. Jeremia, jy moet ook nie na ’n huis gaan waar hulle partytjie hou nie. Moet glad nie saam met hulle eet of drink nie,

9. want,” so sê die Here, die God van Israel, wat sterker as alles en almal is, “voor jy eendag doodgaan, sal jy sien wat Ek gaan doen. Ek sal sorg dat al die gesing en gelag in hierdie land ophou. Die vrolike stemme van bruide en bruidegomme sal ook stil word.

10. “As jy al hierdie dinge vir die mense vertel, sal hulle vir jou vra: ‘Hoekom het die Here besluit dat sulke slegte dinge met ons moet gebeur? Wat het ons nou eintlik gedoen dat daar op so ’n slegte manier met ons gewerk word? Wat het ons sodanig gedoen waarvan die Here wat ons God is, nie hou nie?’

11. Dan moet jy vir hulle sê: Die Here sê dit is omdat julle voorouers nie lojaal aan My was nie. Hulle het ander gode vereer en hulle gedien. Hulle het skoon van My vergeet. Hulle was ongehoorsaam. Hulle het hulle nie gesteur aan die dinge wat Ek gesê het hulle moet doen of nie mag doen nie.

12. Maar julle gedra julle nog erger as julle voorouers! Julle is hardkoppig en hou net aan om verkeerde dinge te doen. Julle luister nie na My nie.

13. Daarom sal Ek sorg dat julle uit julle land gegooi word. Ek sal verder ook sorg dat julle na ’n vreemde land gevat word waar julle voorouers nog nooit was nie. As julle daar is, kan julle ander gode dien net soveel as wat julle wil. Julle moet geen gunsies van My verwag nie.”

14. Die Here sê: “Die tyd is naby dat mense wat vroeër plegtig belowe het: ‘So waar as die Here lewe wat die mense van Israel uit Egipte gered het,’ dit nie langer sal doen nie.

15. In plaas daarvan sal hulle sê: ‘So waar as die Here lewe wat die mense van Israel teruggebring het uit die noorde en al die lande waarheen hulle as gevangenes weggevat was, na hulle eie land toe.’ Hulle kan daarvan seker wees dat Ek hulle sal terugbring na hierdie land wat Ek aan hulle voorouers gegee het.”

16. Die Here sê: “Ek stuur ’n leër en niemand sal uit hulle hande bly nie. Die soldate sal net soos vissermanne maak. Hulle sal die mense van Juda soos visse vang. Ek maak hulle ook soos jagters wat die mense van Juda in die berge sal jag, op heuwels en in rotsskeure.

17. Ek hou Juda se mense baie fyn dop. Ek weet van elke verkeerde ding wat hulle doen. Hulle kan niks vir My wegsteek nie.

18. Ek sal hulle weer en weer straf vir die slegte en verkeerde goed wat hulle gedoen het. Ek wou hê dat die land altyd skoon moes bly van ander gode. Israel het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle het die land besmet met beelde wat nie ’n tikkie lewe in hulle het nie. Hulle het oral in hierdie land wat Ek vir hulle gegee het, van hierdie afskuwelike beelde gebring.”

19. Here, U gee my krag. U beskerm my. Ek kan ook veilig by U wegkruip as gevaar op my pad kom. Mense van ander nasies sal van oral oor die aarde na U kom en sê: “Ons voorouers was dom om nikswerd afgode te dien. Hulle kan tog niks doen nie!

20. Kan mense hulle eie gode maak? Hulle kan seker beelde maak, maar ’n beeld is tog nie ’n regte god nie!”

21. Die Here sê: “Ek sal hulle wys hoe groot my krag is en hoeveel mag Ek het. Dan sal hulle weet dat Ek die Here is. Ek is regtig God!”

Jeremia 16