Handelinge 27:10-26 Die Boodskap (DB)

10. Op ’n dag het Paulus almal op die skip gewaarsku: “Manne, daar wag ’n groot ramp op ons. Ek sien dat ons skip met vrag en al sal vergaan. Heelwat mense sal ook in die ramp omkom.”

11. Die Romeinse offisier het toe vir die kaptein van die skip en vir die eienaar gaan vra wat om te doen. Hulle het vir hom gesê dat Mooi Hawens se hawe nie die regte plek was om tydens die winter oor te bly nie. Die offisier het hulle raad aanvaar en saam met die res van die bemanning besluit om verder te vaar.

12. Hulle wou so gou moontlik by Feniks uitkom. Hierdie hawe, wat na die suidweste en na die noordweste met die see verbind is, was volgens hulle ’n meer geskikte plek om te oorwinter.

13. Die volgende dag het ’n ligte suidewind begin waai. Dadelik is die skip se anker gelig, omdat die bemanning gedink het dat die weer nou reg was om veilig tot in Feniks te vaar. Ons was egter skaars by Kreta verby of ons loop ons in daardie gevreesde noordoostewind vas waarvoor al die seevaarders so bang is.

14. Hierdie stormwind, wat die Eurakilon genoem word, het ons skip soos ’n stukkie papier meegesleur.

15. Ons kon dit glad nie op koers hou nie.

16. Toe ons later naby die eiland Kauda kom, het ons na ’n groot gesukkel ons reddingsbootjie, wat agter die skip met ’n tou vasgemaak was, aan boord gekry. Daarna het die matrose toue onder om die skip vasgemaak. Dit het die skip se romp versterk teen die storm.

17. Omdat hulle bang was dat die skip hom op die sandbanke te pletter sou loop, het hulle die dryfankers ook laat sak. Ons het begin wegdryf van die gevaarlike kuslyn af.Die storm het ons skip heen en weer op die see geslinger.

18. Die volgende dag is die vrag in die see gegooi om die skip ligter te maak.

19. En die dag daarna moes almal aan boord hand bysit om die skip se toerusting ook in die see te gooi.

20. Dae lank kon ons glad nie die son of die sterre sien nie. Omdat die storm net nie wou bedaar nie, het ons later alle hoop laat vaar dat ons gered sou word.

21. Paulus het nou vir ons almal gesê: “Julle moes vroeër na my geluister het toe ek julle daar in Kreta gewaarsku het om nie verder te vaar nie. Dan sou julle hierdie ramp vrygespring het. Maar dit help nie om mekaar nou hieroor te verwyt nie.

22. Julle moenie moed opgee nie. Ek verseker julle: niemand aan boord sal iets oorkom nie. Net die skip sal vergaan.

23. “Gisteraand het ’n engel van die God wat ek dien aan my verskyn en gesê:

24. ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. Daarom sal God sorg dat jy lewend daar aankom. God het ook besluit om die lewe van almal saam met jou op die skip te spaar.’

25. “Hou daarom moed, vriende. Ek glo dat alles presies net so sal gebeur soos God gesê het.

26. “Ons gaan binnekort op ’n eiland strand.”

Handelinge 27