Handelinge 26:22-32 Die Boodskap (DB)

22. Maar God was by my. Tot vandag toe het Hy my opgepas. Daarom kon ek aan almal wat ek raakgeloop het, klein en groot, sy wil bekendmaak. Nie ’n enkele woord wat ek ooit gesê het, is in stryd met wat die profete en Moses gesê het nie.

23. Hulle het lankal gesê dat die Messias moet kom ly. Hulle het ook gesê dat Hy uit die dood sou opstaan. Weet u, Jesus is die heel belangrikste Persoon wat nog ooit uit die dood opgestaan het. Daarom bring Hy redding vir alle mense op aarde. Hy is die lig vir almal wat in die donker leef, vir Jode en nie-Jode.”

24. Paulus se woorde het Festus baie omgekrap. Toe hy dit nie meer kon uithou nie, het hy skielik geskree: “Jy is mal, Paulus! Jou groot geleerdheid is besig om jou van jou kop af te dryf.”

25. “Met alle respek, geagte Festus,” het Paulus geantwoord, “ek is glad nie mal nie. Dit wat ek sê, is die reine waarheid.

26. Enige mens wat mooi luister na wat ek sê, kan dit verstaan. Vra maar vir koning Agrippa. Hy weet ook van al die dinge waaroor ek praat. En hy begryp dit ook. Niks van hierdie dinge het op die een of ander verlate plekkie afgespeel nie.”

27. Paulus vra toe vinnig vir Agrippa: “En wat van u, koning Agrippa, glo u wat die profete sê? Wag, u hoef nie eens te antwoord nie. Ek weet dat u glo.”

28. “As jy so aanhou, maak jy my sommer netnou ’n Christen,” het Agrippa geantwoord.

29. “Ek bid dat u en al die ander mense wat vandag na my luister Christene sal word,” sê Paulus toe. “Of dit nou dadelik gebeur of eers ’n rukkie later, my gebed is dat u net soos ek sal begin glo. O ja, natuurlik bid ek dat u sal glo sonder al die boeie wat ek vandag aanhet.”

30. Na hierdie woorde het die koning en die Romeinse goewerneur, saam met Bernice en al die hooggeplaastes, opgestaan en die saal verlaat.

31. Terwyl hulle uitstap, het hulle vir mekaar gesê: “Hierdie man het niks verkeerds gedoen nie. Hy verdien nie die dood nie. Hy hoort nie eens in ’n tronk nie.”

32. Agrippa het daarom vir Festus gesê: “Hierdie man kon vrygelaat gewees het as hy hom nie beroep het op sy reg om voor die keiser te verskyn nie.”

Handelinge 26