1. Drie dae na sy aankoms in Sesarea is Festus na Jerusalem toe. Die hoëpriester en al die godsdienstige leiers van die Jode het hierdie kans aangegryp.
2. Hulle het dadelik vir Festus van Paulus vertel en allerhande beskuldigings teen hom gemaak. Hulle het ook vir Festus gevra of hy hulle nie ’n guns wou bewys deur
3. Paulus Jerusalem toe te stuur om deur hulle verhoor te word nie. Hulle wou egter vir Paulus langs die pad voorlê en doodmaak.
4. Festus het egter geweier. “Die man word in Sesarea aangehou. En so sal dit bly,” het hy geantwoord. Hy het wel vir hulle gesê dat hy self binne ’n paar dae na Sesarea sou terugkeer.
5. “Julle kan, as julle wil, julle bekwaamste regsgeleerdes saam met my stuur,” het Festus gesê. “Hulle kan die man dan kom aankla as hy iets verkeerds gedoen het.”
6. Sowat agt of nege dae later het Festus na Sesarea teruggekeer. Die dag na sy aankoms het hy sy plek in die regsaal ingeneem en beveel dat Paulus voor hom moes verskyn. Soos een man het die Jode wat uit Jerusalem gekom het vorentoe gehardloop en om Paulus kom staan.
7. Hulle het dadelik met allerhande beskuldigings teen hom losgetrek. Natuurlik kon hulle niks daarvan bewys nie.
8. Paulus se verdediging was kort en kragtig: “Ek het niks verkeerds gedoen teen die wet van die Jode, of teen die tempel, of teen die keiser nie.”
9. Festus wou egter in die Jode se goeie boekies bly. Daarom het hy vir Paulus gevra: “Sien jy kans om Jerusalem toe te gaan sodat ek jou daar kan verhoor?”
10. “Ek staan op hierdie oomblik tereg voor die regbank van die Romeinse keiser,” het Paulus geantwoord. “Dit is my reg as ’n Romeinse burger. Ek het nie ’n saak met die Jode nie.
11. Ek het niks verkeerds teen hulle gedoen nie. U weet dit baie goed. As ek ’n oortreding begaan het wat die doodstraf verdien, is ek bereid om my straf te dra. Dan kan u my sommer hier en nou teregstel. Maar as die Jode se beskuldigings teen my nie bewys kan word nie, het niemand die reg om my aan hulle uit te lewer om hulle ’n guns te probeer bewys nie. Nou beroep ek my op my reg om deur die keiser self verhoor te word.”