Genesis 43:16-29 Die Boodskap (DB)

16. Toe Josef hulle saam met Benjamin sien, het hy vir die hoof van sy huis gesê: “Laat die mense inkom en in die huis bly. Slag dan ’n dier en maak vir ons lekker kos, want ons eet vanmiddag saam.”

17. Die hoof van die huis het presies gemaak soos Josef gesê het en hy het die broers huis toe geneem.

18. Die broers was baie agterdogtig en het vir mekaar gesê: “Dis seker oor die geld wat in ons graansakke was dat hulle ons uitgenooi het. Hulle wil ons natuurlik terugkry; daarom het hulle ons in hierdie hinderlaag gelei. Hulle sal ons oorval, slawe van ons maak en al ons diere vat.”

19. Toe het die broers na die huis se ingang gestap en daar met die hoof van Josef se huis begin praat.

20. “Meneer, miskien kan u ons help,” het hulle gesê. “Ons was ’n vorige keer ook hier om kos te koop.

21. Op pad terug het ons by die nagkamp ons graansakke oopgemaak en tot ons groot verbasing gesien dat elkeen se geld bo-op lê. Die presiese bedrag wat elkeen bestee het. Ons het vandag gekom om hierdie geld vir u terug te gee.

22. Natuurlik het ons ook ander geld saamgebring waarmee ons kos wil koop. Meneer, ons weet regtig nie wie die geld in ons sakke gesit het nie.”

23. “Alles is reg,” het die hoof gesê, “moenie bang wees nie. Al die geld wat julle moes betaal het, het ek gekry. Elke sent daarvan. Dalk was dit julle God en die God van julle pa wat die geld in julle sakke gesit het.” En hy het Simeon gaan haal en hom vir sy broers teruggegee.

24. Die hoof het die broers in Josef se groot huis ingenooi en hulle ’n plek gegee waar hulle kon was en ontspan. Hy het ook vir hulle donkies kos gegee.

25. Ondertussen het die broers verneem dat hulle die middag saam met Josef moet eet. Terwyl hulle vir hom gewag het, het hulle solank die geskenke reggesit.

26. Toe Josef uiteindelik opdaag, het hulle laag voor hom gebuig en die geskenke vir hom gegee.

27. Josef het gehoor hoe dit gaan en toe gevra: “En hoe gaan dit met julle pa, die ou man van wie julle my die vorige keer vertel het? Leef hy nog?”

28. Hulle het gesê: “Dit gaan goed met u kneg, ons pa. Hy leef nog en hy is baie gesond.” Die broers het gekniel en voor Josef gebuig.

29. Josef het na Benjamin, sy ma se jongste kind, gekyk en gevra: “Is dit nou julle jongste broer? Die een van wie julle my vertel het?” Hy het vir Benjamin gesê: “Mag God naby jou wees, seun.”

Genesis 43