4. Jy moet na die land toe gaan waar ek vandaan kom. Daar moet jy tussen my eie mense vir my seun Isak ’n vrou gaan soek.”
5. Abraham se werker was ’n bietjie bekommerd en het gevra: “En sê nou die jongmeisie wil nie saam met my kom nie? Moet ek u seun dan terugvat na die land waarvandaan u kom?”
6. “Nee, hoegenaamd nie,” het Abraham gesê. “Moet tog nie dat my seun daarheen gaan nie.
7. Baie lank gelede het die Here, die God van die hemele, my laat wegtrek van my pa se huis en van my mense se land. En die Here het my beloof dat Hy hierdie land waarin ek nou woon, eendag aan my nageslag sal gee. Moet dus nie bang wees nie, want die Here sal sy engel voor jou uitstuur en hy sal jou help om vir Isak ’n vrou te kry.
8. As die jongmeisie nie wil saamkom nie, hoef jy nie verder te soek nie. Dan is jy vry van jou belofte aan my. Jy moet tog net nie my seun daarheen neem nie.”
9. Die werker het sy hand op Abraham se heup gesit en hom opreg beloof om te doen wat hy gevra het.
10. Die werker het toe tien van Abraham se kamele gevat en die beste geskenke, en hy is daar weg. Hy het reguit koers ingeslaan na ’n plek in die noorde van Mesopotamië. Dit was die stad waar Nahor, Abraham se broer, gewoon het.
11. Een middag het die werker uiteindelik daar aangekom. Net buite die stad was daar ’n fontein en hy het die kamele daar laat drink. Dit was teen die aand, die tyd van die dag dat die vroue fontein toe gekom het om water vir die huis te skep.
12. Die werker het gebid en gesê: “Here, U wat die God van my eienaar Abraham is, laat my tog vanmiddag die regte dinge doen en sê. Bewys u liefde vir my meester Abraham.
13. Here, hier staan ek by die fontein en binnekort kom die meisies uit die stad om water te skep.
14. Ek gaan vir een van hulle vra: ‘Gee my asseblief ’n bietjie water uit jou emmer om te drink,’ en as sy sê: ‘Drink gerus en bring ook jou kamele dat ek hulle kan water gee,’ sal ek weet dit is die vrou wat U vir Isak aangewys het. Dit sal ook die teken wees dat U aan meneer Abraham gedink het en dat U al die beloftes aan hom onthou het.”
15. Voordat hy nog klaar gebid het, het Rebekka met ’n waterkruik op haar skouer daar aangekom. Sy was die dogter van Betuel. En Betuel was die seun van Abraham se broer Nahor en sy vrou, Milka.