Esegiël 44:5-22 Die Boodskap (DB)

5. Toe sê Hy vir my: “Mens, luister nou baie mooi. Ek gaan vir jou sê wat ’n mens in my huis mag doen, en wat nie. Ek gaan ook vir jou sê wie hier mag inkom en wie nie.

6. Jy moet vir hierdie volk wat aanhoudend teen My opstandig is, gaan vertel wat Ek vir jou sê. Sê vir hulle: Ek het nou net mooi genoeg gehad van al julle slegte dade, volk van Israel!

7. Julle het mense wat nie deel van my volk is nie, in my huis ingebring. Hulle is ’n spul mense wat niks vir My voel nie. So het julle my huis besoedel terwyl julle offers gebring het. En so het julle die ooreenkoms verbreek wat Ek met julle gesluit het. Dit was bo en behalwe al die ander slegte dinge wat julle gedoen het.

8. Julle het nie in die huis van die Here gemaak soos Ek julle beveel het om te doen nie. Julle het selfs vreemdelinge gehuur om in my huis te werk.”

9. Nou sê die Here, Esegiël se God: “Geen vreemdeling sal weer in my huis mag kom nie. Nie eens die vreemdelinge wat tussen my volk bly, sal hier inkom nie. As hulle nie aan My behoort en vir My lief is nie, is hulle nie welkom nie.

10. Baie van die mense wat in my huis gewerk het, het gedros toe die res van die volk afgode begin dien het. Hulle het saam voor die afgode gaan buig. Nou moet hulle maar die gevolge van hulle slegte dade dra.

11. Hulle mag by die ingang van my huis wagstaan en my huis oppas. En hulle mag die diere slag wat die mense bring om aan My te offer.

12. Maar hulle het mos my volk aangemoedig om afgode te aanbid. Israel het slegte dinge gedoen. Daarom belowe Ek nou dat hulle nooit weer in my huis mag dien nie. Hulle moet die gevolge dra van die slegte dinge wat hulle gedoen het,” sê die Here, die God van Esegiël.

13. “Hulle mag nie in my huis kom nie en hulle mag nie vir My offers bring nie. Hulle mag geen voorwerp of instrument hanteer wat slegs gebruik mag word om My te dien nie. Hulle moet skaam kry oor al die slegte dade wat hulle gedoen het.

14. Hulle mag die huis van die Here oppas. En hulle mag help om die geboue reg te maak. Maar dis al.

15. “Die kleinkinders van Sadok het nie saam met die volk slegte dade gedoen en afgode gedien nie. Hulle het My in my huis bly dien. Hulle mag dit daarom nou steeds doen. Ek laat hulle toe om in my huis te kom en My te dien. Hulle mag voor My kom en offers vir My bring, namens die volk,” sê die Here, Esegiël se God.

16. “Hulle mag by die ingang van my huis instap en na my tafel kom om My te dien. Hulle het gedoen wat Ek hulle beveel het.”

17. “Wanneer hulle by ’n ingang van my huis inkom, moet hulle onthou dat hulle die linneklere aantrek wat Ek voorskryf. Hulle mag nie in die huis van die Here ingaan as hulle klere aanhet wat van wol gemaak is nie.

18. Selfs hulle hoede moet van linne gemaak wees. En hulle broeke ook. Die rede is dat hulle klere hulle nie moet laat sweet nie. Wol is te warm om te dra.

19. As hulle uitgaan na die volk wat buitekant wag, moet hulle eers hulle linneklere uittrek. Die klere wat hulle dra as hulle voor My kom, mag nie uit die kamers gaan wat by my huis aangebou is nie. Selfs hulle klere dra die merk van my teenwoordigheid. As mense wat slegte dade doen daarmee in aanraking kom, kan hulle doodgemaak word.

20. “Mense wat in my diens staan, mag nie hulle koppe kaal skeer nie. Maar hulle mag ook nie hulle hare lank dra nie. Hulle moet altyd hulle hare netjies laat sny.

21. Iemand wat in my huis werk, mag nie wyn drink as hy in die verskillende kamers van my huis ingaan nie.

22. Hulle mag slegs trou met vroue uit Israel wat nog nooit voorheen getroud was nie. Hulle mag ook met vroue trou wat mans gehad het wat vroeër in my huis gewerk het, maar wat intussen dood is. Hulle mag nie met ander vroue trou wat voorheen getroud was of wat geskei is nie.

Esegiël 44