Esegiël 40:4-16 Die Boodskap (DB)

4. Hierdie man sê toe vir my: “Mens, jy moet baie mooi kyk na wat nou voor jou oë gaan afspeel. En jy moet mooi luister. Jy is hiernatoe gebring sodat ek jou ’n hele klomp dinge kan wys. Dan moet jy teruggaan na Israel en hulle presies gaan vertel wat jy alles gesien het.”

5. Ek sien toe ’n muur wat reg rondom die huis van die Here gebou is. Die man het sy liniaal gevat. Die liniaal was drie meter lank. Hy meet toe die muur om die huis van die Here met sy liniaal. Die muur was presies drie meter lank en ook drie meter dik.

6. Toe het die man na die hek aan die oostekant van die huis van die Here gegaan. Hy het met die trap opgeklim en toe meet hy die drumpel. Dit was ook drie meter breed.

7. Binne-in die poort was daar plek waar die wagte kon sit, aan weerskante van die ingang. Elke vertrek waar die wagte gesit het, was drie meter by drie meter groot. Die muur tussen die twee vertrekke was twee en ’n half meter dik. Aan die binnekant was daar ’n opening waardeur ’n mens in die huis van die Here kon ingaan. Die begin van die portaal was ook drie meter wyd.

8. Die man het dit gemeet en gesien dat dit drie meter breed was.

9. Daarna het hierdie man ook die opening gemeet waardeur ’n mens ingaan na die huis van die Here se terrein. Dit was vier meter by vier meter, en die muur was ’n meter dik.

10. Aan weerskante van hierdie vertrek was daar drie kamers. Hierdie kamers was ewe groot. Die mure tussen die kamers was ewe dik.

11. Die man het toe ook hierdie opening gemeet. As die hek oop was, was die ingang vyf meter breed. Die volle lengte van die opening was ses en ’n half meter wyd met die hek toe.

12. Voor die kamers aan die kante was daar afskortings. Hulle was elkeen ’n halwe meter dik. Die kamers was drie meter by drie meter.

13. Toe het die man ook die wydte van die hele gebou gemeet waardeur ’n mens gaan as jy in die huis van die Here se terrein wil kom. Dit was van die kamers aan die een kant tot by die kamers aan die ander kant. Die afstand was twaalf en ’n half meter. Die kamers se ingange was regoor mekaar.

14. Die man het toe ook die opening gemeet waardeur ’n mens gaan. Die afstand van die opening tot agter die gebou waardeur ’n mens moet gaan, was 30 meter.

15. Hy het ook die afstand gemeet van voor die opening tot by die buitenste gebou, en dit was 25 meter.

16. Agter in die kamers was daar vensters gebou wat met houthortjies toegemaak het. In die opening was daar ook vensters. Teen die mure van al hierdie vertrekke het mense prente van palmbome geteken.

Esegiël 40