Esegiël 34:5-16 Die Boodskap (DB)

5. Daarom loop hierdie trop skape, my volk, alleen rond. Hulle het nie ’n skaapwagter wat hulle oppas nie. Wilde diere vang onder hulle, want hulle word nie beskerm nie.

6. My skape loop alleen op die heuwels en in die valleie. Hulle is al oor die hele aarde verstrooi. Niemand gaan soek hulle nie.

7. “Daarom moet die skaapwagters baie mooi luister na wat Ek vir hulle sê.

8. So seker as wat Ek leef,” sê die Here, die God van Esegiël, “julle het my trop skape gelos en nie vir hulle gesorg nie. Julle het nie omgegee as wilde diere my skape aanval en doodmaak nie. Julle het niks daaraan gedoen nie. Ek het julle aangestel as skaapwagters om my skape op te pas. Maar julle het nie eens die moeite gedoen om op te staan en te gaan soek as van my skape weggeraak het nie. Julle het net vir julleself gesorg. Julle het julleself trommeldik geëet, maar my skape het van die honger gevrek.”

9. Daarom, luister mooi, skaapwagters.

10. So sê die Here, die God van Esegiël: “Julle is van nou af my vyande, skaapwagters! Ek hou julle verantwoordelik vir elke skaap. Julle sal vir My moet kom sê hoe dit met elke skaap gaan en wat van elke skaap geword het. En julle sal ook nie meer vir my skape kos gee nie, want Ek kan julle nie vertrou nie. Julle vat die kos vir julleself. Julle sal nie langer slag en eet soos julle wil nie. Ek red my skape uit julle hand.”

11. Nou sê die Here, Esegiël se God: “Ek soek self my skape wat weg is. En as Ek hulle kry, bring Ek hulle terug en gee vir hulle kos.

12. Ek is van nou af die Skaapwagter wat vir hierdie trop skape sorg wat oor die hele wêreld rondloop. Ek sal hulle gaan soek en hulle red. Die dag toe dit bewolk was en die lug donker was, het baie van my skape verdwaal.

13. Maar Ek sal hulle gaan soek en hulle veilig terugbring huis toe. Ek bring hulle terug na hulle eie land toe, na Israel. Ek gaan haal hulle tussen die ander volke uit waar hulle as gevangenes woon. Dan sal Ek vir hulle genoeg kos gee. Hulle sal op die heuwels wei en by die riviere water drink. Hulle sal veilig wees omdat daar oral mense sal wees wat hulle beskerm.

14. Ja, Ek loop voor die skape uit en bring hulle by die beste weiveld. Op die hoogste berge van Israel sal hulle die beste gras kry. En as hulle klaar gewei het, sal hulle veilig lê en rus. Want Ek is daar tussen hulle. Ek beskerm hulle. Ek gee vir my skape net die beste.

15. Van nou af sal Ek self vir my skape sorg. Ek vertrou hulle nie meer aan enigiemand toe nie. My skape sal rustig wees. As hulle rus, sal niks hulle versteur nie.” Dit is die Here, die God van Esegiël, wat so sê.

16. “Ek sal self daardie skape gaan soek wat wegdwaal en verlore raak. Ek sal hulle veilig huis toe bring. En as ’n skaap seerkry, sal Ek self vir hom sorg. Ek sal sy wond verbind. Die swak skape sal Ek op my skouers dra. Maar die vet skape wat ander seermaak, sal Ek laat slag. My skape sal goed behandel word, want Ek gee vir hulle om.”

Esegiël 34