3. Dit is hulle wat vir die mense sê: ‘Is dit nie nou ’n goeie tyd om huise vir julle hier in die stad te bou nie? Ons stad is soos ’n sterk ysterpot. Binne-in hierdie sterk ysterpot sal ons veilig wees sodat geen ramp ons ooit sal tref nie.’
4. Daarom moet jy hard en duidelik oor hierdie leiers sê wat Ek vir jou sê.”
5. Toe het die Here se Gees vir my gesê wat ek oor hierdie leiers moet sê: “Dit is wat die Here sê vir die volk Israel: Is dit wat julle vir die volk sê? Goed, Ek het dit gehoor. Ek ken in elk geval elke gedagte wat in julle opkom.
6. Julle het aangehou moord pleeg totdat die strate van Jerusalem vol lyke lê.
7. Daarom, sê die Here julle God nou vir julle, sál die stad wel soos ’n ysterpot word. Die mense wat onder julle slegte dade gely het, is soos stukke vleis wat in die ysterpot gegooi is. Maar julle sal glad nie veilig wees nie. Binnekort sleep Ek julle almal uit die stad uit.
8. Julle sal die grootste oorlog sien waarvoor julle nog altyd bang was,” sê die Here die God van Esegiël.
9. “Ek sal julle uit die stad Jerusalem uitjaag, en dan sal Ek julle aan vreemdelinge oorgee wat julle sal straf soos Ek wil hê dat julle oor julle slegte dade gestraf word.
10. Julle sal doodgemaak word die hele pad tot by die grense van julle land. Dan sal julle regtig weet dat Ek die Here is.
11. Nee, hierdie stad sal nie ’n ysterpot wees wat julle beskerm nie. Julle sal nie veilig wees teen gevare nie. Ek sal julle straf tot daar teen die grense van julle land.
12. En dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is. Want julle het mos geweier om na My te luister. In plaas van na My te luister het julle eerder al die slegte dinge gedoen wat die nasies rondom julle vir julle geleer het.”