Eksodus 23:19-26 Die Boodskap (DB)

19. Jy moet die beste gedeelte van die eerste oes wat jy insamel, vir die Here na sy blyplek toe bring. Jy mag nie ’n boklam offer wat so pas gespeen is nie.”

20. “Let daarop: Ek laat die man wat Ek uit die hemel na jou stuur, saam met jou gaan om jou langs die pad te beskerm. Hy sal saam met jou gaan tot by die land wat Ek vir jou eenkant hou.

21. Jy moet hom vertrou dat hy jou sal beskerm. Jy moet luister wat hy vir jou sê. Jy moenie teen hom draai nie. Hy sal dit nie verdra as jy verkeerd met hom maak nie. Hy verteenwoordig My by jou en tree in my plek op.

22. As jy mooi na hom luister en presies doen wat Ek van jou vra, sal Ek ook jou vyande se vyand wees en sal Ek hulle aanval wat jou wil aanval.

23. “My verteenwoordiger sal saam met jou gaan. Hy sal jou laat veg teen die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete. Maar Ek sal hulle uitwis.

24. Jy mag nooit voor hulle gode buig of hulle aanbid nie. Jy moet God ook nooit op dieselfde manier aanbid as wat hulle hulle gode aanbid nie. Jy moet hulle heidense godsdiens met wortel en tak uitroei. Jy moet die klippilare waar hulle hulle gode aanbid, tot op die grond toe afbreek.

25. Jy moet net tot die Here jou God bid en tot geen ander god nie. Die Here sal dit dan goed met jou laat gaan. Hy sal vir jou kos en drinkgoed en gesondheid gee.

26. Daar sal nie in jou land mense wees wat nie kinders kan kry nie. Dit sal ook nie gebeur dat jou kinders doodgebore word nie. Ek sal jou lank en gelukkig laat lewe.

Eksodus 23