2. “As ’n Hebreeuse man soveel skuld gemaak het dat jy dit vir hom moes betaal, moet die man ses jaar lank sonder betaling vir jou werk. Hy is dan jou slaaf. In die sewende jaar moet jy hom vrylaat. Hy skuld jou dan niks verder nie.
3. As hy nie getroud was toe hy by jou begin werk het nie, maar intussen getrou het, moet jy net vir hom vrylaat. As hy aan die begin alreeds getroud was, moet jy sy vrou saam met hom laat gaan.
4. As die persoon vir wie hy slawewerk doen, vir hom ’n vrou gegee het in die tyd dat hy by hom gewerk het en hy het kinders by die vrou gehad, moet hy sonder hulle vrygelaat word. Die vrou en haar kinders moet by die eienaar bly. Hulle behoort aan hom.
5. As die man wat as slaaf gewerk het, reguit sê: ‘Ek hou van my baas en ek is lief vir my vrou en my kinders. Ek wil nie vrygelaat word nie,’
6. moet die eienaar saam met hom na die Here se plek toe gaan. Hy moet hom daar teen ’n deur of deurkosyn laat staan en met ’n els ’n gaatjie in sy oor maak. As hy dit gedoen het, bly daardie man vir die res van sy lewe sy slaaf.
7. “Wanneer iemand so diep in die skuld raak dat hy sy dogter moet verkoop om slawewerk te doen, word sy nie soos manlike slawe na ses jaar vrygestel nie.
8. As haar eienaar nie met haar wil trou nie, breek hy sy ooreenkoms met haar. Hy moet haar dan verkoop. Hy mag haar egter nie aan iemand van ’n ander volk verkoop nie.
9. As hy haar gekoop het om met sy seun te trou, mag hy haar nie langer behandel asof sy ’n slaaf is nie. Sy word vir hom soos sy eie dogter.
18-19. “As twee mans aan die baklei raak, kan dit gebeur dat die een die ander een met ’n klip of met sy vuis slaan sodat hy in die bed beland. Dit kan gebeur dat hy nie daarvan doodgaan nie, maar met ’n kruk moet loop as hy weer regkom. As dit gebeur, moet die persoon wat hom geslaan het hom vergoed vir die tyd wat hy siek was en vir hom sorg tot hy weer gesond is.
20. As iemand sy manlike of vroulike werker so met ’n stok slaan dat die slaaf doodgaan, moet daardie persoon gestraf word.
21. As die slaaf dit oorleef en nie binne ’n dag of twee doodgaan nie, is dit in orde. Die man besit tog immers die slaaf.”
22. “Twee mans kan miskien met mekaar baklei. Terwyl hulle veg, kan een van hulle teen ’n vrou stamp wat swanger is sodat sy daardeur haar baba verloor. Die man wat haar die baba laat verloor het, moet dan skadevergoeding betaal. Haar man sal ’n eis instel. Daar moet dan onderhandel word oor die bedrag wat betaal moet word.
23. As hy skade veroorsaak het wat vir altyd sal bly, moet hy daarvoor baie geld betaal. As sy doodgaan, sal hy met sy eie lewe moet betaal.
24. ’n Oog se skade moet met ’n oog goed gemaak word. As daar ’n tand uit is, moet hy een van sy tande laat uithaal. ’n Hand se skade moet met ’n hand betaal word, ’n voet met ’n voet,
25. ’n brandplek met ’n brandplek, ’n wond met ’n wond en ’n kneusplek met ’n kneusplek.
26. As ’n eienaar sy slaaf of slavin op die oog slaan en die slaaf kan nie meer met daardie oog sien nie, moet die eienaar die slaaf laat vry gaan om die skade van die oog goed te maak.
27. Ook net so wanneer hy sy manlike of vroulike slaaf se tand uitslaan, moet hy daardie persoon vrylaat om so vir die tand te vergoed.”
28. “As ’n bul toevallig ’n man of ’n vrou met sy horings doodstoot, moet die bul dadelik met klippe doodgegooi word. Sy vleis mag egter nie geëet word nie. Die eienaar van die bul hoef ook niks verder te betaal nie.
29. As daar egter al vantevore vir die eienaar gesê is dat sy bul sulke neigings het en hy niks daaraan gedoen het nie, moet hy saam met die bul doodgegooi word wanneer die bul ’n man of ’n vrou se dood veroorsaak.