2 Kronieke 33:9-18 Die Boodskap (DB)

9. Maar hulle het dit nie gedoen nie. Manasse het hulle geleer om dinge te doen wat erger was as die goed wat die volke gedoen het wat voor die Israeliete in die land gebly het.

10. Die Here het Manasse en sy mense gewaarsku, maar hulle wou nie luister nie.

11. Toe het die Here die Assiriese leërs gestuur en hulle het Manasse gevang. Hulle het ’n ring deur sy neus gesit, hom met dik kettings vasgebind en hom na Babel toe gevat.

12. Terwyl hy daar baie swaargekry het, het hy weer na die Here toe gekom. Hy het die God van sy voorouers nederig om verskoning gevra vir al sy sondes.

13. Toe Manasse so gebid het, het die Here besluit om hom te help. Hy het hom na Jerusalem laat teruggaan en hy het weer die koning van Juda geword.Dit het Manasse laat besef dat die Here werklik God is.

14. Manasse het toe die buitemuur van Jerusalem herbou. Hy het van ’n punt af, wes van die Gihonfontein in die Kidronvallei, verby die Vispoort tot by die Ofel die muur opgebou en baie hoër gemaak. Hy het ook militêre offisiere in die versterkte stede in Juda aangestel.

15. Hy het ook die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die tempel weggevat en die altare afgebreek wat hy vroeër op die tempelberg in Jerusalem gebou het. Hy het die rommel buite die stad weggegooi.

16. Daarna het Manasse die Here se altaar herstel en offers vir die Here gebring om vir Hom dankie te sê en Hom te loof. Hy het vir die mense van Juda gesê dat hulle die Here, Israel se God, moes dien.

17. Die mense het wel nog op die heilige plekke buite Jerusalem gaan offer, maar hulle het net vir die Here geoffer.

18. Die res van Manasse se geskiedenis, hoe hy tot sy God gebid het en hoe die sieners hom namens die Here, Israel se God, aangespreek het, word vertel in Die Geskiedenis van die Konings van Israel.

2 Kronieke 33