2 Kronieke 31:15-21 Die Boodskap (DB)

15. Sy helpers was Eden, Minjamin, Jesua, Semaja, Amarja en Sekanja. Hulle het die bydraes onder die priesterfamilies in hulle eie dorpe uitgedeel. Hulle het gesorg dat oud en jonk almal regverdig behandel word.

16. Hulle het ook gesorg dat elke man wat daagliks inkom om sy werk by die Here se tempel te doen sy geskenke kry.

17. Die priesters is volgens hulle familie in die register aangeteken, en van die Leviete is dié wat twintig jaar en ouer was volgens hulle diensgroepe en beurte aangeteken.

18. Hulle hele gesin is ook in die register aangeteken, dit is die vroue, seuns en dogters van die hele tempelgemeenskap.

19. Die priesters uit die familie van Aäron wat in die dorpe rondom die stede gewoon het, is ook voorsien van hulle deel van die tempelbydraes deur mense wat daarvoor aangestel is. Hulle moes ook sorg vir die Leviete wat in die familieregisters aangeteken was.

20. Koning Hiskia se verspreiding van die tempelbydraes deur die hele Judea het die Here sy God tevrede gestel.

21. Hiskia het baie moeite vir die tempel van God gedoen en het met oorgawe die Here se wet en opdragte probeer uitvoer. Daarom was hy baie suksesvol.

2 Kronieke 31