2 Kronieke 23:13-18 Die Boodskap (DB)

13. Sy sien toe dat die koning op sy koninklike verhoog by die ingang van die tempel staan. Die militêre offisiere en die trompetblasers het langs hom gestaan. Terwyl die mense uitbundig juig en trompette blaas, het die sangers musiek gemaak en lofliedere gesing. Atalia het geweet wat dit beteken. Sy het ontsteld haar klere geskeur en geskree: “Verraad! Verraad!”

14. Jojada het vir die offisiere gesê: “Vang haar en vat haar weg. Enigiemand wat aan haar kant is, moet julle doodmaak. Onthou net, julle mag haar nie in die tempel van die Here doodmaak nie!”

15. Hulle het haar toe gegryp en weggevat. Toe hulle by die Perdepoort van die paleis kom, het hulle haar daar doodgemaak.

16. Jojada het daarna ’n ooreenkoms met die volk en die koning gesluit dat hulle almal saam die Here se volk sou wees.

17. Daarna het hulle almal na die Baältempel toe gegaan. Hulle het die tempel en die altare afgebreek en die afgodsbeelde stukkend geslaan. Toe maak hulle vir Mattan reg voor die altare dood. Hy was Baäl se priester.

18. Jojada het toe die tempeldiens in ere herstel: hy het weer die Leviete en priesters aangestel om toesig oor die tempel te hou, soos Dawid bepaal het. Hy het gesê dat hulle weer die brandoffers vir die Here moes bring, soos die wet van Moses voorskryf, en dat hulle dit met vreugde en sang moes doen, soos Dawid gesê het.

2 Kronieke 23