2 Konings 19:12-22 Die Boodskap (DB)

12. Het die gode van die ander volke hulle miskien gered? Dink maar aan Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden in Telassar! My voorgangers het hulle almal oorwin.

13. Wat het van die konings van Hamat en Arpad geword? Wat het met die konings van die stede Sefarwajim, Hena en Awwa gebeur?”

14. Toe Hiskia die brief van die boodskappers af kry, het hy dit gelees. Daarna het hy tempel toe gegaan en dit voor die Here oopgesprei.

15. Toe bid hy: “O Here wat die Groot Bevelvoerder is, God van Israel, U regeer oor alles. U is die God van alle koninkryke op aarde. U het die hemel en die aarde gemaak.

16. Luister asseblief tog na my gebed! Kyk bietjie, Here. Hoor net wat Sanherib alles sê, hoe hy die lewende God beledig!

17. “Dit is natuurlik waar wat hy in sy brief sê, Here: die Assiriërs hét al die volke wat hy noem, oorwin.

18. En hulle hét al die volke se gode omgegooi en verbrand. Maar hulle kon dit doen, want daardie gode is nie regtig gode nie! Daardie gode was sommer afgode wat mense uit hout en klip gemaak het.

19. Ag, Here! Red ons tog uit die koning van Assirië se mag. As U dit doen, sal al die regerings op aarde weet dat U die enigste God is.”

20. Jesaja het toe vir Hiskia laat weet: “Die Here sê Hy het gehoor wat jy Hom oor Sanherib, die Assiriese koning, gevra het.

21. Hier is die Here se antwoord oor Sanherib: Jerusalem verag jou en lag jou uit, skud die kop minagtend as jy wegvlug.

22. Wie dink jy het jy belaster en bespot?“Dit was die Heilige Een van Israel!

2 Konings 19