23. totdat die Here besluit het om hulle te verwerp. Dít is waaroor die profete, sy dienaars, Israel altyd gewaarsku het. Israel is toe weggeneem na die Assiriërs se land toe en dit is waar hulle vandag nog is.
24. Die koning van Assirië het ander mense in Israel hervestig. Hulle was afkomstig uit stede soos Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim. Hulle het in Samaria en die stede daar rondom gaan woon en die land beset.
25. Aan die begin het die nuwe inwoners nie die Here gedien nie. Hy het toe leeus onder hulle ingestuur om party van hulle dood te maak.
26. Die volgende boodskap is toe na die koning van Assirië gestuur: “Die mense wat u in die omgewing van Samaria hervestig het, weet nie hoe om die God van die land te eer nie. Nou het Hy leeus gestuur wat onder hulle maai omdat hulle Hom nie reg dien nie.”
27. Die Assiriese koning het toe beveel: “Stuur een van die priesters wat uit Samaria weggevoer is terug Israel toe. Hy kan die nuwe mense leer hoe om die God van die land reg te eer.”
28. So het een van die priesters teruggekom na Israel toe en in Bet-El gaan woon. Hy het die mense geleer hoe hulle die Here moet eer.
29. Die mense uit die vreemde volke het egter aangehou om ook elkeen hulle eie gode te dien in die stede waar hulle te lande gekom het. Hulle het beelde van hulle eie gode by die heilige plekke wat die Israeliete nog gebou het, gaan neersit.
30. Die volgende gode is vereer:Sukkot-Benot deur die mense van Babel;Nergal deur die mense van Kuta;Asima deur die mense van Hamat;
31. Nibgas en Tartak deur die mense van Awwa;Adrammelek en Anammelek deur die mense van Sefarwajim. Dié mense het selfs hulle kinders as offers vir die twee gode verbrand.
32. Die nuwe mense het die Here ook vereer, maar hulle het self vir hulle priesters aangestel om by die heilige plekke vir hulle offers te bring.
33. Terwyl hulle die Here gedien het, het hulle ook aangehou met die godsdienstige gebruike waaraan hulle voorheen gewoond was.
34. Dit gaan vandag nog so aan. Hulle hou by hulle tradisionele gebruike in plaas daarvan om die Here werklik te dien. Hulle behoort sy wette, reëls en riglyne te gehoorsaam, soos Hy dit vir die nageslag van Jakob, wie se naam Hy na Israel verander het, beveel het.