2 Konings 16:7-18 Die Boodskap (DB)

7. Koning Agas het boodskappers na Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, gestuur en vir hom gesê: “Ek is u dienaar en u onderdaan. Kom help my asseblief om die Arameërs en Israeliete se aanval af te slaan.”

8. Agas het die silwer en goud wat oor was in die Here se tempel en die stoorkamers van die paleis bymekaargemaak en dit as ’n geskenk aan die Assiriese koning gestuur.

9. Tiglat-Pileser het besluit om Agas te help. Hy het die Aramese hoofstad Damaskus aangeval en die inwoners na Kir weggevoer. Hy het ook vir koning Resin doodgemaak.

10. Agas het Damaskus toe gereis om Tiglat-Pileser te gaan ontmoet. In Damaskus het hy ’n altaar gesien wat dadelik sy belangstelling gewek het. Hy het die afmetings en ’n model van die altaar aan die priester Urija gestuur en hom beveel om ’n replika daarvan te maak.

11. Urija het die opdrag sorgvuldig uitgevoer en ’n altaar presies soos die een in Damaskus voltooi nog voordat Agas uit Damaskus terug was.

12. Toe Agas in Jerusalem kom, het hy na die altaar gaan kyk en verskillende offers daarop gebring:

13. hy het ’n dier as offer op die altaar verbrand en ’n offer van graan gebring; hy het drank as offer oor die altaar gegooi en die bloed van ’n vredesoffer daaraan gesmeer.

14. Agas het die bronsaltaar wat voor die tempel tussen die nuwe altaar en die tempel gestaan het, uitgehaal en dit noord van die nuwe altaar laat neersit.

15. Agas het vir Urija gesê: “Van nou af moet jy alle offers hier op die groot altaar uitvoer: alles wat in die oggend en in die aand vir die Here verbrand word, die diere, graan én drank, moet hier verbrand word. Al die bloed van die offerdiere wat teen ’n altaar gegooi moet word, moet van nou af teen hierdie altaar gegooi word. Die ou bronsaltaar sal voortaan net vir my eie gebruik wees.”

16. Urija het presies gedoen wat koning Agas hom beveel het.

17. Agas het ook die syplate en wasbakke van die waterwaentjies weggevat. Hy het ook die groot waterbak, die “See”, van die beesbeelde van brons waarop dit gerus het, afgehaal en op die klipvloer neergesit.

18. Om sy ondergeskiktheid aan die Assiriese koning te bewys, het Agas die oordekte gang wat vroeër by die tempel aangebou is en net deur die koning op die sabbatdae gebruik is, laat afbreek. Hy het ook die spesiale koninklike ingang tot die tempel laat toemaak.

2 Konings 16