1 Samuel 6:12-21 Die Boodskap (DB)

12. Die koeie het reguit na Bet-Semes toe geloop. Hulle het geloop en bulk, maar al die tyd padlangs gehou sonder om links of regs af te draai. Die regeerders van die stadstate het agter die wa aangeloop tot by die grens van Bet-Semes.

13. Die mense van Bet-Semes was in die vallei besig om koring te oes. Toe hulle opkyk en die ark op die wa sien, was hulle bly.

14. Die koeie het met die wa gaan staan by die land van Josua van Bet-Semes. Daar was ’n klipplaat. Hulle kap toe die wa stukkend en offer die twee koeie daar vir die Here.

15. Die Leviete het die ark en die sak met die goue beeldjies van die wa afgetel en dit op die klipplaat neergesit. Daardie dag het die mense van Bet-Semes vir die Here offerdiere geslag en verbrand.

16. Die vyf Filistynse regeerders het dit alles gesien. Hulle is dieselfde dag terug Ekron toe.

17. Die vyf goue beeldjies van die swelsels waarmee die Filistyne die Here wou betaal, is gegee in die plek van die vyf groot dorpe van die Filistyne: Asdod, Gasa, Askelon, Gat en Ekron.

18. Die goue rotte is weer gegee in die plek van al die Filistynse dorpe waaroor die vyf regeerders beheer gehad het, die groot dorpe met mure om en ook die kleiner dorpies sonder mure. Die klipplaat waarop hulle die ark van die Here neergesit het, is vandag nog daar op die stuk grond van Josua van Bet-Semes.

19. Die Here het die mense van Bet-Semes swaar gestraf omdat hulle in die ark geloer het. Hy het 70 van die 5 000 inwoners laat doodgaan. Die mense van Bet-Semes het gehuil omdat die Here hulle so hard geslaan het.

20. Hulle het gesê: “Wie kan naby die Here, hierdie heilige God, lewendig bly? Na wie toe moet die ark nóú gaan?”

21. Hulle het vir die mense van Kirjat-Jearim laat weet: “Die Filistyne het die ark van die Here teruggebring. Kom haal hom, asseblief.”

1 Samuel 6