1 Samuel 17:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Die Filistyne het hulle soldate bymekaargemaak vir oorlog en by Soko wat in Juda is, saamgekom. Hulle kamp was by Efes-Dammim, tussen Soko en Aseka.

2. Saul en die Israeliete het ook bymekaargekom. Hulle kamp was by Eikelaagte. Hulle het gereedgemaak om teen die Filistyne te veg.

3. Die Filistyne en die Israeliete het kamp opgeslaan op twee bulte weerskante van ’n spruit.

4. Daar kom toe ’n voorvegter uit die kamp van die Filistyne. Sy naam was Goliat. Hy het uit die dorp Gat gekom en hy was amper drie meter lank.

5. Die man het ’n brons helm op sy kop gehad en ’n veghemp met brons skubbe aangehad. Die veghemp het 57 kilogram geweeg.

6. Hy het brons beenskutte gedra en daar het ’n brons kromswaard tussen sy skouers gehang.

7. Die handvatsel van sy spies het gelyk soos die balk waaraan mense wat weef, hulle wol hang, en die spies se ysterpunt het omtrent ses kilogram geweeg. ’n Man wat ’n groot skild dra, het voor hom geloop.

8. Goliat het by die spruit gaan staan en vir die manne van Israel geskree: “Hoekom maak julle reg om teen die Filistyne te veg? Ék is ’n Filistyn en julle is ’n klomp slawe van Saul! Kies iemand en laat hom hier onder na my toe kom!

9. As hy kans sien om teen my te veg en my wen, sal ons julle slawe wees! As ek vir hóm kans sien en hom wen, moet julle óns slawe wees en vir ons werk!”

10. Hy skree toe ook nog: “Ek spot al die hele dag met die soldaatjies van die Israeliete! Stuur tog nou iemand om teen my te kom veg!”

1 Samuel 17