1 Samuel 15:9-20 Die Boodskap (DB)

9. Saul en sy mense het nie vir Agag doodgemaak nie. Hulle het ook nie die beste skape, bokke en beeste doodgemaak nie; ook nie die tweede beste diere en die jong ramme nie. Hulle wou nie die mooi diere doodmaak nie, maar die diere wat niks werd was nie, die goed wat niemand wou hê nie, dié het hulle doodgemaak.

10. Die Here sê toe vir Samuel:

11. “Ek is jammer Ek het vir Saul laat koning maak, want hy luister nie na My nie en doen nie wat Ek vir hom sê nie.”Samuel was baie ongelukkig daaroor en hy het dwarsdeur die nag ernstig gebid.

12. Hy het vroeg die môre opgestaan om Saul te gaan sien. Die mense sê toe vir hom: “Saul het Karmel toe gegaan om daar vir homself ’n monument op te sit. Daarvandaan is hy hier verby af Gilgal toe.”

13. Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: “Die Here is goed vir jou. Ek kon alles doen wat Hy gesê het ek moet doen.”

14. “Maar hoekom hoor ek dan skape blêr en beeste bulk?” vra Samuel.

15. “O, dit kom van die Amalekiete af,” sê Saul. “Die manne het die beste skape en beeste saamgebring om vir die Here u God te offer. Al die ander het ons doodgemaak.”

16. “Bly stil,” sê Samuel vir Saul. “Kom ek sê vir jou wat die Here vannag vir my gesê het.” “Ja, sê maar,” sê Saul.

17. “Jy het mos eers gedink jy is onbelangrik, nie waar nie?” sê Samuel. “Maar toe word jy die leier van al die Israeliete, want die Here het jou koning laat maak oor Israel.

18. Die Here het jou gestuur om vir Hom ’n werk te gaan doen. Hy het vir jou gesê: ‘Saul, jy moet daardie klomp slegte mense, die Amalekiete, gaan doodmaak. Veg teen hulle totdat daar niks van hulle oor is nie.’

19. Hoekom het jy nie na die Here geluister nie? Hoekom het jy van die goed gegryp wat julle by die Amalekiete gevat het? Jy het ’n lelike ding gedoen. Die Here hou niks daarvan nie.”

20. “Maar ek hét na die Here geluister,” sê Saul vir Samuel. “Ek het gaan doen wat die Here gesê het ek moet doen. Ek het Agag, die koning van die Amalekiete, saamgebring, maar ek het al die ander Amalekiete doodgemaak.

1 Samuel 15