1 Samuel 12:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Samuel het vir al die Israeliete gesê: “Ek het alles wat julle gevra het, gedoen en ’n koning oor julle aangestel.

2. Nou kan die koning julle lei. Ek is ’n ou man en ek is grys; ja, my kinders is so oud soos julle. Ek self het julle gelei van my jong dae af tot vandag toe.

3. Hier staan ek voor julle. Julle kan my nou by die Here en by sy gesalfde koning aankla as ek iets verkeerds gedoen het. Het ek ooit iemand se goed gevat of iemand mishandel? Het ek ooit omkoopgeld gevat en onreg toegelaat? As ek dit ooit gedoen het, sal ek daarvoor betaal.”

4. “Nee,” antwoord hulle, “u het niemand gedwing om vir u iets te gee of iemand mishandel nie. U het by niemand iets gevat nie.”

5. Samuel sê vir hulle: “Die Here is vandag getuie en sy gesalfde koning is ook getuie dat julle gesê het ek het niks onwettigs gedoen nie.” Hulle stem toe saam: “Die Here is getuie.”

6. Daarna sê Samuel vir die volk: “Julle weet dit is die Here wat Moses en Aäron gegee het en julle voorouers uit Egipte laat trek het, nè? Wel, kom staan dan hier in die beskuldigdebank!

7. Ek gaan nou téén julle vir die Here getuig, deur al die goeie dinge wat die Here vir julle en julle voorouers gedoen het, op te noem.

8. Nadat Jakob Egipte toe getrek het, het julle voorouers na die Here geroep en gevra Hy moet hulle help. Hy het Moses en Aäron gestuur. Hulle het julle voorouers uit Egipte gelei en vir hulle hier ’n blyplek gegee.

9. “Maar hulle het die Here hulle God vergeet. Hy het hulle oorgegee in die mag van Sisera, die generaal van die dorp Hasor. Die Here het hulle ook in die mag van die Filistyne en die koning van Moab oorgegee. Toe hulle teen julle voorouers oorlog gemaak het,

10. het hulle na die Here geroep en bely: ‘Ons het gesondig, want ons het die rug vir U, Here, gedraai en die Baälgode en Astarte-godinne gedien. Red ons asseblief nou uit die mag van ons vyande. Ons sal U dien.’

11. “Die Here het Jerubbaäl, Bedan, Jefta en vir my, Samuel, gestuur en die Here het julle vrygemaak van die mag van julle vyande aan alle kante sodat julle rustig kon woon.

12. Maar die oomblik toe julle sien dat Nagas, die koning van die Ammoniete, teen julle optrek, het julle vir my gesê: ‘Nee, daar móét nou ’n koning oor ons heers.’ En dit terwyl die Here julle God tog julle koning is!

1 Samuel 12