1. Gideon en al die manne by hom het vroeg opgestaan en hulle het hulle tente opgeslaan by die stad En-Garod. Die Midianiete se kamp was by die Waarsêer-hoogte in die vallei, noord van Gideon se kamp.
2. Die Here het vir Gideon gesê: “Jy het te veel manne by jou. As ek hulle laat wen teen die Midianiete, dan sal die Israeliete spog en sê hulle het hulleself gered.
3. Daarom, jy moet hulle roep en sê elkeen wat bang voel, kan teruggaan huis toe.”Gideon het die manne bymekaargeroep en hy het dit vir hulle gesê. Toe het 22 000 manne teruggegaan huis toe. Daar het 10 000 manne oorgebly.
4. Die Here het vir Gideon gesê: “Die manne is nog te veel. Laat hulle afgaan na die water, dan sal Ek hulle daar uitsoek. Ek sal vir jou sê wie mag saamgaan met jou en wie nie.”
5. Gideon het toe die manne laat afgaan na die water, en die Here het vir hom gesê: “Party manne sal water skep met hulle hande soos ’n hond water oplek met sy tong. Jy moet hulle apart laat staan, nie by die ander manne wat kniel om water te drink nie.”
6. Daar was 300 manne wat die water met hulle hande opgeskep het. Al die ander manne het gekniel om water te drink.
7. Die Here het vir Gideon gesê: “Ek sal julle red met hierdie 300 manne wat die water met hulle hande geskep het. Ek sal jou laat wen teen die Midianiete. Laat die ander manne teruggaan, elkeen na sy huis.”
8. Gideon het die ander manne laat teruggaan huis toe en hy het die 300 manne by hom laat bly. Hulle het die padkos en ramshorings by hulle gehou. Die kamp van die Midianiete was in die vallei, onderkant die kamp van Gideon.
9. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Jy moet die Midianiete se kamp gaan aanval, Ek sal jou laat wen teen hulle.
10. Maar as jy bang is om hulle aan te val, dan moet jy en Pura, die seun wat by jou is, eers na die kamp gaan
11. en luister na wat hulle praat. Dan sal jy nie meer bang wees om hulle aan te val nie.”Gideon en Pura het toe afgegaan tot by die kant van die kamp.
12. Die manne in die kamp was gereed om oorlog te maak. Daar was baie Midianiete en Amalekiete en Oosmense in die vallei. Hulle was so baie soos sprinkane. Niemand kon hulle kamele tel nie, want hulle was so baie soos die sand by die see.
13. Toe Gideon by die kamp kom, was ’n man besig om vir sy maat te vertel wat hy gedroom het. Hy het gesê: “Ek het gedroom ek sien ’n ronde garsbrood wat deur die kamp rol. Dit het tot teen ons tent gerol en die tent omgestamp. Die tent het geval, en die brood het bo-oor die tent gerol.”
14. Die man se maat sê toe: “Dit beteken die Israeliet, Gideon seun van Joas, kom oorlog maak teen ons, en God sal hom laat wen teen die Midianiete en hierdie hele kamp.”
15. Toe Gideon hoor van die droom en wat dit beteken, het hy gebuig en hy het die Here geprys. Hy het teruggegaan na die kamp van die Israeliete, en gesê: “Kom, die Here sal julle laat wen teen die leër van die Midianiete.”